Die Vrystaat Kunstefees 2025 is gereed om plaaslike talent op ’n nasionale verhoog te laat skyn, met ’n program wat bars van kreatiwiteit en emosie. Met minder as ’n maand voor die fees afskop, beloof hierdie jaar se fees ’n viering van plaaslike kunstenaars, skrywers, regisseurs en akteurs.
Hoogtepunte van die Program:
‘Die Bruikbare Idioot’ deur Nico Luwes
’n Nuwe, toneelstuk spot met die bestuur van ’n denkbeeldige artistieke streeksraad. Om die Universiteit van Vrystaat se Dramadepartement se sestigste verjaardag te vier, speel bekende oudstudente, personeel en huidige studente die hoofrolle in hierdie bruisende opvoering.

Prof. Nico Luwes sê dit is vir hom wonderlik om ná 25 jaar steeds deel van die fees te wees. “Baie water het in die see geloop sedertdien en die klein fees het gegroei tot ’n multikulturele en multitalige nasionale fees met ook internasionale kunstenaars wat hier optree,” vertel hy. “Dat die fees steeds groei is te dankie aan vele bestuurlede en artistieke hoofde se visie en deursettingsvermoë oor die jare, gewaardeerde borge, kunstenaars wat hulle uitsonderlike talente van oor die land deel en veral die gehore wat die fees getrou ondersteun. Daarvoor is ’n mens dankbaar.”

‘Verbode Gedagtes in Stereo’ deur Jani Marais
Jani Marais, ’n dosent, navorser en vryskut teaterkunstenaar, lewer ’n kragtige nuwe verhoogstuk wat delf in temas wat baie mense ervaar, maar selde hardop uitspreek. Die toneelstuk plaas dit wat ons dink teenoor dit wat ons sê in skerp kontras, en vra die vraag: Is dit beter om jou innerlike gedagtes bloot te lê, of om dit eerder vir jouself te hou?

‘The Semblance of Permanence’ deur Jefferson J. Dirks-Korkee
Geïnspireer deur Martin Koboekae se “Of Cats and Dogs”, volg hierdie toneelstuk die lewens van James, ’n dramaturg, en Junior, ’n aspirant-akteur. Die verhaal meng humor slim met ’n moderne teks en fokus op die verhouding van ’n saamwonende homoseksuele paartjie in ’n oorwegend heteroseksuele wêreld.
Dit belig die werklikhede van liefde en die uitdagings wat daarmee gepaard gaan. Die skrywer en regisseur, ’n oudstudent van die Universiteit van Vrystaat, nooi kykers uit om na te dink oor temas soos patriargie, rassisme en seksisme.
Michael Garbett sê die plaaslike kunstenaars bring nie net hul werk nie – hulle bring hul waarheid, hul passie en die unieke stories van die Vrystaat. “Dit is werk wat eg is, trefkrag het en diep weerklank vind. Ons is ongelooflik trots op die buitengewone plaaslike kunstenaars wat deel is van vanjaar se fees.”
Saamgestel deur Warren Hawkins
[email protected]







