Viljoen klop SA rekordhouer in tweekamp

0
470
Gean Viljoen van Suid-Vrystaat (links) was Saterdag onverskrokke op die Suid-Afrikaanse tweekampkampioenskap wat in Port Elizabeth beslis is. FOTO: HANNES NAUDÉ

Gean Viljoen, matriekleerder van die Hoërskool Grey-kollege, het Saterdag in Port Elizabeth gewys hy skrik nie vir ‘n SA rekordhouer wat langs hom aantree vir ‘n tweekampwedloop nie.

Hierdie veelsydige multisportatleet was boonop die enigste lid van die Suid-Vrystaat-tweekampspan wat daarin kon slaag om goud om die nek te hang by dié hoogs mededingende byeenkoms waar nie minder nie as 786 deelnemers van oor die land heen hul staal op die atletiekbaan en in die swembad gewys het.

In tweekamp hardloop atlete eers ‘n middelafstandwedloop op die baan en daarna swem hulle ‘n kortafstandnommer. Punte word dan toegeken na gelang van hulle onderskeidelike tye om plekke te bepaal.

Op die atletiekbaan moes Viljoen en sy teenstanders (seuns onder 17) ‘n mylwedloop (1609 m) aflê, en die vonke het behoorlik gespat toe hy en die huidige nasionale rekordhouer (2299,15-punte), Cody Coombe (Oostelike Provinsie), kop-aan-kop gehardloop het. Viljoen het uiteindelik net-net voor Coombe geëindig. Hul onderskeidelike tye was 4:42,15 (1134,25 punte) en 4:42,70 (1131,50 punte).

Hulle moes egter die knie buig in genoemde mylwedloop voor nog ‘n Suid-Vrystater, Henro van Rooyen (Hoërskool Jim Fouché). Van Rooyen het ‘n uithaler-wedloop afgelê om op sy beurt 51-honderdstes van ‘n sekonde voor Viljoen oor die eindstreep te hardloop. Van Rooyen het 1136,80 punte vir sy hardlooptyd van 4:41,64 opgestapel.

In die 100 m-swemskof was dit egter Viljoen wat Coombe en Van Rooyen in ‘n blitsige 57,41-sekondes (1239,90 punte) oorwin het. Coombe (1:00,19), wat bykans drie sekondes na Viljoen die kant geraak het, het 1208,10 punte verdien vir sy swemtyd, terwyl Van Rooyen die stophorlosie op ‘n tyd van 1:01,99 (1190,10 punte) laat halt roep het.

Met die bymekaartel van die hardloop- en swemskofpunte was Viljoen as SA kampioen én nuwe SA rekordhouer gekroon. Sy totaal van 2370,15-punte was ‘n reuse-70,20-punte meer as die einste Coombe se SA rekord van 2299,95 punte.

Coombe en Van Rooyen het wel met hul punte van 2339,60 en 2326,90 ook beter as Coomes se genoemde rekord gevaar.

Viljoen se ouer suster, Mizan (Kovsies) was self op haar stukke met ‘n bronsmedalje in die afdeling vir senior vroue. Sy het 2309,75 punte vir haar derde plek verdien nadat sy die hardloopskof (1000 m) in 3:15,47 voltooi het en die 100 m-swemskof in 1:12,79 klaargemaak het.

Mizan het egter geen teenvoeter gehad nie vir die wenner, Jaydene Hunkin (Sentraal Gauteng). Hunkin het Mizan in die hardloop- sowel as swemskofte agterweë gelaat met tye van 3:09,71 en 1:09, 71 om 2383,05 punte vir haar oorwinning bymekaar te skraap.

Marna Lourens (WP, 2358,65 punte) was derde met ‘n hardlooptyd van 3:23,63 en het die swemskof in 1:03,82 afgeblits.

Gean, Mizan en Van Rooyen was die enigste Suid-Vrystaters wat die onderskeiding behaal het om op die podium te verskyn. – RUFUS BOTHA