Die polisie in Bloemfontein soek na vier mans wat gister in die vroeë oggendure ‘n vulstasie in Curielaan beroof het. Polisiewoordvoerder, Chaka Marope, sê die mans wat hulle aanvanklik as klante voorgedoen het, het omstreeks 01:20 by die vulstasie se winkel ingestorm. Hulle het hul gesigte gedeeltelik met kledingstukke bedek.
Een van die rowers, wat met ‘n pistool gewapen was, het die vuurwapen op ‘n kassier en twee petroljoggies gerig, terwyl die ander rowers die drie werknemers se selfone afgeneem het. Sigarette ter waarde van sowat R1 500 en ‘n onbekende bedrag geld, wat in die kasregister was, is gebuit. Volgens Marope het die mans weggehardloop.
Geen skote is afgevuur nie en niemand is in die voorval beseer nie. ‘n Klag van sakeroof word ondersoek. Marope vra enigiemand met inligting om hul naaste polisiekantoor of die ondersoekbeampte, Crace Vinger, by 082-526-2713 te bel. – Christal-Lize Muller







