Goeiedag
“Onthou wat ek gesê het? Suid-Afrikaanse rugby moet geprivatiseer word om die kreeftegang van ons spel te stuit. Die jongste syfers wys ons TV-kykergetalle daal vinnig, toeskouergetalle neem af – selfs in Johannesburg waar die Leeus aanskoulike wenrugby speel en dus meer toeskouers moet lok. Al minder skoolseuns speel rugby en ons kan nie meer met ons Bokkies saamgesels oor die voorste o.20-spanne ter wêreld nie en natuurlik stroom ons talentvolle spelers en afrigters in groot getalle oorsee om daar geld te gaan verdien.
“Ek weet dit is ‘n geykte uitdrukking, maar ”n vis vrot van sy kop af’ en met Saru in beheer dobber die skip, ‘Rugby’, rigtingloos rond. Wat doen Oregan Hoskins en Jurie Roux om die probleme te beredder? Die kwalifiserende Curriebeker-reeks is byna iets van die verlede en is steeds borgloos. Daar is geen vernuwing in die benadering nie en ons klou aan uitgediende stelsels vas,” begin Bontie Bonthuys ons indaba waar hy verlede week afgesluit het.
“Bontie, ek stem saam, maar dit is nie nodig om so swartgallig te wees nie. Ná die afgelope naweek se Superrugby-wedstryde het ek weer groot hoop vir Suid-Afrikaanse rugby. Die Leeus is ná hul sege van 37-10 oor die Haaie bo al die spanne, selfs dié van Nieu-Seeland, op die punteleer en kan die eerste keer in die geskiedenis eerste eindig as hulle hul oorblywende wedstryde teen die Kings en Jaguares in Argentinië wen. Die Stormers en Haaie is ook nog in die wedloop vir die uitspeelwedstryde. Die afgelope naweek het die Cheetahs ook teen die Western Force gewen. Dit wys ons het die spelers om saam te gesels,” kap Sporie Bezuidenhout van Despatch se wêreld af terug.
“Ek dink net die Leeus se afrigters, Johan Ackermann en Swys Joubert, asook Franco Smith van die Cheetahs en Robbie Fleck van die Stormers, moet beter en meer deur SA rugby by afrigting betrek word,” laat Oom Sjert van hom hoor.
“Manne, rugby is nie die enigste probleem nie. Het julle gesien Gideon Sam se Saskok het R70 miljoen van Lotto vir SA sport ontvang, maar hulle gaan nie ons sportlui se volle vliegkaartjies na Rio vir die Olimpiese Spele betaal nie. Hoe word die geld spandeer? By ons krieket lol dit ook. Ons huidige Protea-afrigter, Russell Domingo, spog slegs met ‘n 53%-wenrekord, maar hy is nog aan die stuur van sake. Daarby het verskeie oud-krieketspelers daarop gewys dat ons plaaslike krieketkompetisies nie aan standaarde voldoen om spelers vir internasionale mededinging voor te berei nie. Om alles te kroon, speel ons top-spelers ook heeltemal te veel krieket oorsee,” borduur Stywelip Carrington voort.
“Moenie die Bulle vergeet nie! Die Bloues het nog ‘n kans om na die uitspeelwedstryde deur te dring as hulle hul twee oorblywende wedstryde teen die Sunwolves en Cheetahs wen en die Haaie kry teen die Cheetahs of Sunwolves slae,” probeer Botterbul Bester desperaat van die Jakarandastad af ‘n woordjie inkry.
Die ander manne steur hulle min aan Botterbul en almal praat liewer oor Saskok, krieket en ons ander sportsoorte.
Groetnis