OFM, die klank van jou lewe, bied vanjaar vir die tweede keer sentraal-Suid-Afrika se kleurvolste pret-padwedloop aan.
Die OFM Music Marathon, in samewerking met Chatz Connect en Vodacom, aangebied deur Achilles-hardloopklub, vind vanjaar op 10 November plaas. Deelnemers kan besluit of hulle ‘n 42.2 km-marathon, 21.1 km-halfmarathon, ‘n 10 km- of ‘n 5 km-pretdraf wil aandurf.
Dinge word vanjaar ‘n bietjie anders gedoen. Hardlopers sal by die Tempe Militêre Basis se sportterrein begin en eindig.
Net soos verlede jaar, sal daar verskillende musiekstasies wees wat die beste musiek van die 80’s, 90’s sowel as 00’s sal speel en waar jy ook verversings kan “gryp” om weer voort te gaan met jou wedloop. Na afloop van die wedloop sal daar kos en koeldrankstalletjies wees waar iets te ete te koop sal wees om die krag weer op te bou.
“Verlede jaar se wedloop was ‘n groot sukses. Die Music Marathon het in een van Bloemfontein se grootste wedlope ontaard, wat regtig ‘n pluimpie is sedert dit vir die eerste keer plaasgevind het,” het Nick Efstathiou, OFM se algemene bestuurder, gesê.
“Vanjaar se wedloop word weer die Bloemfontein Achilles-hardloopklub aangebied en ons verwag dat dit nog groter en selfs nog beter gaan wees. Ek wil al ons lojale luisteraars aanmoedig om die geleentheid te ondersteun deur te stap, te hardloop of hardlopers aan te moedig en die dag te geniet.”
Soos gewoonlik sal daar prysgeld en goue medaljes wees vir die wenners van die 42.2 km, 21.1 km en die 10 km. Vanjaar sal die besgeklede drawwer in die 5 km-pretdraf ‘n enorme R5000-reiskoopbewys wen.
Vir meer inligting en om die inskrywingsvorm te kry, besoek www.ofm.co.za of www.entrytime.com of SMS ‘music’ na 36636 teen R1.50 per SMS. Hardlopers kan ook van 7-9 November tussen 15:00 en 20:00 by Achilles-sportklub gaan inskryf en hul nommers afhaal.
Daar word aanbeveel dat deelnemers aanlyn registreer. Inskrywings is oop en sluit op 2 November. Geen laat inskrywings sal op die dag aanvaar word nie.
Die Music Marathon is ‘n amptelik kwalifiserende wedloop vir die 2019-Twee Oseanewedloop sowel as die Comrades Marathon. – Jeretha Oosthuizen
[email protected]







