Die Sunshine Walk wat verlede naweek gehou is, was volgens Elmarie Prinsloo, uitvoerende hoof van Bloemskou, ’n groot sukses.
“Die beste deel van die dag was die manier waarop almal tyd saam geniet het en ons terselfdertyd bewustheid kon skep dat groot klubhuise en lokale wat vir gesellighede gehuur kan word, beskikbaar is. Die kinders het veral die speelarea by een van die klubhuise, die kompetisies en lekkers geniet!” sê Prinsloo.
Volgens haar het ongeveer 200 mense die geleentheid bygewoon. “Alhoewel dit ‘n bietjie minder is as wat verwag is, waardeer ons die bywoning, veral op so ‘n yskoue Sondagoggend.”
Prinsloo sê ook dat die atmosfeer met OFM se musiek, wonderlike kosstalletjies, koffie, en die oop skouterrein besonder aangenaam was.
“Ons het baie navraag gekry oor die volgende soortgelyke gebeurtenis. Ons sal die geleentheid met belanghebbendes bespreek en lesers en luisteraars op die hoogte hou. “Bloemfontein se mense het beslis ‘geloop’, ons het die tyd saam geniet – veral ná die winter en die streng Covid19-regulasies. Ons het beslis die slagspreuk, ‘We rise again!’, uitgeleef.”
Prinsloo se boodskap aan Bloemfonteiners is, “Moeilike tye hou nie aan nie. Laat ons positief bly en hoop. Die lewe sal ons beloon met wonderlike tye soos hierdie.”
OFM-bemarkingsbestuurder, Lindiwe Mtwentula, sê, “OFM is baie trots om deel te kon wees van hierdie spesiale geleentheid. Ons hoop dit is die eerste van nog vele staptogte waarby ons betrokke kan wees. Dit was wonderlik om te sien hoe die mense van Bloemfontein die Sunshine Walk geniet het.”
Justine Fortuin







