Storiesmous – 16 April 2015

0
601

Om te sê dat musiek belangrik is in my lewe, is ’n onderbeklemtoning. As radioman is dit seker te verstane. Musiek en radio is, soos die pous en die Katolieke Kerk, geswore genote deur dik en dun.
As skoolseuntjie toeka se jare was bendes en rugby en visvang en kettieskiet veel belangriker as musiek. In die verpligte skoolkooroefeninge het “Afrikaners Is Plesierig” en “Ek Soek Na My Dina” nou ook nie juis die musiekpoorte na my hart toe oopgemaak nie.
(Onthou ek nou weer een van die heel grootste foute van my ganse lewe: Toe ek na net drie weke van klavierlesse in graad 2 vir my ma sê dis net sissies wat musiek neem.)
Die ‘ware’ ontdekking van musiek het saam met die liefde gekom, op hoërskool. Eers daardie versigtige ontwaking van emosies. “I Think I Love You”. Koebaai vir my pêlle. “Goodbye Sam Hello Samantha”. Die vreugde toe sy ja sê. “She Loves You”. Maar dan die twyfel. “Will You Still Love Me Tomorrow”. En die pyn van verwerping. “Heartbreak Hotel”. Of “How Can You Mend A Broken Heart”. Hoe het ons nie daardie lirieke gelééf nie. Die intensiteit van alles. Musiek en herinneringe, onlosmaaklik ineengeweef.
As omroeper later by die ou Afrikaanse Radiodiens (deesdae RSG) het die daaglikse versoekprogramme en spesialis-musiekreekse ’n wonderlike wye wêreld van nuwe musieksmake oopgemaak. (Daar was mos ’n SAUK-regulasie dat alle titels op die lug in Afrikaans vertaal moes word. “Kom ons luister na die pragtige stem van Johnny Mathis, met sy weergawe van “Maak My Saggies Dood Met Haar Liedjie”.”)
Ek loop nou die dag ’n opname van ’n John Denver-konsert raak. Spotgoedkoop. Sit dit in die DVD-speler. Skakel aan. En saam met die musiek spoel die herinneringe oor my. Dit was 1975. Huis Olienhout hier by Kovsies. Eerstejaar. En onder musiekman Willem Branders se leiding oefen ons vir die sêr by die dameskoshuise. “Leaving On A Jet Plane”. Dit is hierdie maand presies veertig jaar gelede.
“All my bags are packed, I’m ready to go. I’m standin’ here outside your door. I hate to wake you up to say goodbye…”
Ek’s ’n regte ou tjankbalie.