Goeiedag
“Goeie genugtig, dis amper te goed om waar te wees. Die Toyota Cheetahs speel met passie en verdedig soos Trojane om hul eerste Superrugby-toersege vanjaar teen die Western Force in Perth te behaal, en toe word die Shimlas ook nog as die FNB Varsitybeker-kampioene gekroon. Hulle het die Pukke 63-33 op Shimlapark voor 12 000 toeskouers afgeransel. Dit is nie net die eerste keer dat die Vrystaters die eindstryd van dié gesogte reeks behaal nie, maar hulle is ook die enigste onoorwonne span in vanjaar se reeks. Dit wil gedoen wees en my rugbyhart klop sommer tjoklits,” begin Oom Sjert die indaba.
“Ja, en moenie vergeet nie. Die Shimlas se afrigters Franco Smith en Hendro Scholtz, albei oud-Bokke van die Vrystaat, rig ook die Droomspan af wat Dinsdag in Stellenbosch teen die Jong Bokkies (o.20 om 18:30) speel. Dit is die eerste keer dat so ’n Droomspan, wat na afloop van die FNB Varsitybeker-reeks gekies word, kans kry om saam te speel. Daar is ook vier Shimlas in die spangroep,” borduur Sporie Bezuidenhout voort.
“Ja, en die rugbyson het darem weer die afgelope naweek vir die Suid-Afrikaanse spanne deurgebreek toe die Cheetahs, Stormers, Bulle en die Leeus almal seges behaal het. Dit is net die Haaie wat my bekommer. Hul nederlaag van 23-21 teen die Leeus wys dat daar ’n skroef los is in die Haaiwaters,” praat Bontie Bonthuys saam.
Dit is duidelik dat Stywelip Carrington oor alles behalwe rugby wil gesels.”Oom Sjert, jy kan ook vonkelwyn skink vir die 23-jarige Dean Burmester van die Schoemanpark-gholfklub. Hy het sy finale rondte in die Zimbabwiese Ope in Harare met ’n arend afgesluit om die Brasiliaan Adison da Silva met een hou om die titel te klop, terwyl nog ’n Vrystater, Jbé Kriger, tiende geëindig het,” vat hy ’n ander koers.
Botterbul Bester is so gefrustreerd dat hy op en af voor die kamera van sy rekenaar spring. “Julle besef natuurlik dat die Bulle die toon vir die SA spanne in die Superrugby-reeks aangee. Die Bulle is derde op die gesamentlike puntelys nadat hulle die Reds 43-22 verfrommel het. En onthou, hulle het sonder verskeie van hul Bokke gespeel,” verduidelik hy vinnig.
Sporie wil hom egter nie praatkans gee nie. “Kêrels, ons is almal oud-rugbyspelers. Die FNB Varsitybeker is mos innoverend met twee skeidsregters op die veld, witkaarte en vashouplek aan die stutte se truie. Dink julle nie ons moet ’n versoekskrif aan Duitser Bosman-hulle stuur nie? Ons moet vra dat hulle in belang van rugby wegdoen met die dryfmaalbewegings van die lynstane af. Dit is niks anders as wettige obstruksie nie. Die Shimlas en Pukke het immers gewys daar is baie ander maniere om opwindende rugby te speel en drieë te druk.”
“Hoor, hoor,” klink dit uit alle oorde op.
Stywelip probeer ’n woord inkry oor die Chinese Grand Prix en daarna oor die 17 Suid-Afrikaners in die Indiese Premierkrieketliga, maar die ander manne byt nie. Hulle wil net oor rugby redekawel.
Groetnis
Date:







