Jy kan nooit die waarde van ’n leermeester oorskat nie. Ek was bevoorreg om ’n paar mense in my lewe te ken wat ’n groot invloed op my gehad het. Maar daar was net één wat ek as ’n ware mentor beskou. My Afrikaans-onderwyser uit my matriekjaar. Vryburg, 1973. Reeds op die eerste dag in sy klas het dit gevoel asof ons ’n pad sou kon stap. Min het ek toe geweet dat daardie pad meer as veertig jaar later steeds ’n kosbare deel van my lewe sou uitmaak.
Mnr. Koekemoer was ’n geroepe onderwyser, ’n unieke en onkonvensionele leermeester. Hy het die skoolbanke in sy klas aan die begin van die jaar in ’n groot sirkel herrangskik. Weg was die konvensionele kwaai Meneer voor die bord, met tjoepstil tieners in perfekte rye wat moet stilsit en luister. Another Brick In The Wall. Alles was opwindend anders as waaraan ons gewoond was. Elke lessenaar het ’n eie klokkie gehad. Skielik het ons belangrik gevoel. Gewaardeer. Raakgesien. Hy het ons aan klassieke musiek blootgestel, drama, kultuur, kunswaardering, debatvoering, etiese kwessies, integriteit.
En dan natuurlik sy eie vak. Hoe onuitwisbaar het hy nie daarin geslaag om ’n liefde vir Afrikaans te kweek nie. Nie net Van Wyk Louw en Opperman nie, maar ook Leroux, Brink en Breytenbach. En Antjie Krog. Siener in die Suburbs. Hy het vir elkeen van ons ’n eie boek laat maak waarin ons kreatief met ons taalontdekkings kon rondspeel. Mooi gedigte en frases wat ons self moes gaan soek. Verskillende kleure en lettertipes. Bypassende prentjies wat jy kon inplak of teken. Ook eie gedigte skryf. Ek het myne vandag nog. A Thing Of Beauty is a Joy Forever…
Na skool het ons altyd kontak gehou. Reeds meer as vier dekades lank. Sy talle briewe deur die jare is ’n skatkis van wysheid, ondersteuning, erkenning en leiding. ’n Rykdom waarsonder my lewe oneindig armer sou wees. Wat ’n voorreg om hom steeds op sy oudag te kan ken, om steeds sy raad te kan vra, en om hom my vriend te kan noem. My Mentor. My Meneer.
Date:







