So onthou Bfn vir Piet Botha

0
426
Dr Mercia Coetzee van Bloemfontein en wyle Piet Botha

Die legendariese musikant, Piet Botha, wat sy stryd teen pankreaskanker op Sondag 2 Junie verloor het, het diep spore in baie mense, van wie baie ook Bloemfonteiners, se hart getrap.
Bloemfontein Courant het met ‘n paar aanhangers asook jarelange vriende gesels om te hoor hoe hulle vir Piet gaan onthou.
Hein Griesel, eienaar van die Aasvoëlklub in Bloemfontein, en die ‘groot gees’ se paaie het reeds in die vroë 90’s in ‘n Mistic Boer se kroeg gekruis. “Piet Botha en Jack Hammer het die aand daar gespeel. As ek reg onthou, het Dapper Jannie, ‘n plaaslike musikant-pêl van my en Piet nog ingestaan op die dromme vir die band. Ek en Piet het aan die gesels geraak oor Afrikaanse rock en blues-musiek.”
Hul paaie het daarna nog vele kere gekruis en Piet sou in Julie tydens die Vrystaat Kunstefees in die Aasvoëlklub opgetree het.
“Die Blues Valkyries was op die Middernagtrein, Piet. Hulle het jou kom haal. Ons gaan jou moerbaie mis. Cheers, Bra Piet. Drink ‘n paar Jagermeisters op ons in Rock Valhalla.”
John Benjémen Grobbelaar, ‘n aanhanger van Piet, beskryf hom as ‘n ware legende. “Daar is soveel om te sê. ‘n Legende van formaat, in ‘n musiekgroep wat vir die wêreldbekende ZZ Top die verhoog geopen het. Een van hul bekendste samestellings, Sharp dressed man, is ‘n perfekte beskrywing van Piet. Sy afsterwe is ‘n groot verlies vir die Suid-Afrikaanse gemeenskap. Hy was definitief ‘n ware rolmodel.”
Doktor Mercia Coetzee, lektor aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie en jarelange vriendin van Piet, het min maar hartroerende woorde gehad. “My generaal… Rus in vrede. Ek sou graag nou vir jou ook wit blomme wou neem.”
Mede-kunstenaar en jarelange vriendin, Karen Zoid, het ‘n baie spesiale boodskap aan Piet geskryf. “Ek soek na jou vlymskerp gevoel in jou songs vanaand. Jy was maar altyd net jouself en dit was ‘n voorreg om jou te kon aanskou. Die einde van jou lewe is ‘n groot verlies wat rippel deur ons harte.” Zoid sê ook, “Hy het ‘n manier gehad om mense bymekaar te bring. Die Here vat altyd die nice-ste mense vir Homself. No fair.”

Jeretha Oosthuizen
info@bloemfonteincourant.co.za