Pure Coenie, pure Sama!

0
181
Coenie de Villiers

Kom ons wees eerlik. Daar is bitter min kunstenaars wat kan spog met ‘n invloedryke loopbaan van veertig veelsydige jare.
Daar is nòg minder wat kan aanspraak maak op ‘n uitmuntende reeks van 17 albums (van hul eie komposisies) wat vereer is met ‘n SCOTTY en ‘n hele reeks Sarie- en South African Music Awards (Sama)-toekennings. Gooi in ‘n Medal of Honour deur die South African Council of Arts and Sciences, en jy begin ‘n idee kry van die besonderse bydrae en prestasies van Coenie de Villiers.
Tydens die 25ste Sama-toekennings het Coenie homself nog ‘n keer bewys as een van Suid-Afrika se voorste talentvolle kunstenaars toe hy sy vierde Sama gewen het vir sy nuutste album, Pure Coenie, in die kategorie Beste Kontemporêre Musiekalbum.
Met stewige kompetisie soos die briljante comeback album van Jan Blohm, Die Liefde Album, ook genomineer in dieselfde kategorie, is hierdie Sama vir Coenie juis soveel meer werd. Wanneer Coenie praat oor Jan Blohm, wat in dieselfde kategorie genomineer is, sê hy, “Dis goeie geselskap en ek is eintlik baie dankbaar,”
Hoewel Coenie se 17de album Pure Coenie heet, word hierdie vrystelling juis gekenmerk deur ‘n indrukwekkende mengelmoes van “wonderlike mense wat bereid was om saam met my te werk,” sê Coenie op sy kenmerkend beskeie manier. Groot figure soos Francois van Coke (voorheen van F*kofpolisiekar), Vicki Sampson, Brandon October en selfs John Kani, die legendariese dramaturg en akteur, verskyn op die album saam met Coenie.
“‘n Mens probeer maar elke keer om iets te sê en ek is gelukkig met die album,” sê Coenie. Hy beskryf dit ook as ‘n “stiller album”.
Alhoewel verskeie Vrystaters soos Brendan Peyper vir Beste Pop Album en Prince Kaybee vir Remix of the Year, genomineer was, is Coenie die enigste wenner uit sentraal-Suid-Afrika. En alhoewel hy twee huise besit, een in Johannesburg en een in Bloemfontein, vertel hy “my bloed bly maar oranje, ek is ‘n Vrystater deur en deur, en sal altyd een bly.”
Coenie se vierde Sama is sonder twyfel ‘n soete oorwinning. Maar ongelukkig kom daar suur saam met die soet. Weens omstandighede gaan Pure Coenie glad nie in winkels beskikbaar wees nie. Die verspreidings-maatskappy het ongelukkig bankrot gespeel.
Dus is die gewone proses wat verseker dat albums in winkels verskyn, heeltemal ontwrig. Die goeie nuus is egter dat Pure Coenie aanlyn gekoop kan word.
Nog ‘n brokkie goeie nuus vir liefhebbers van Coenie is dat sy splinternuwe album op 15 September by die Atterbury Teater in Pretoria vrygestel gaan word.

Vernon Bauman
info@bloemfonteincourant.co.za