Owen Kock
Bloemfontein. – Die Universiteit van die Vrystaat het twee weke om formeel verdediging aan te teken en daarna ‘n verdere drie weke om ‘n verweerskrif te liaseer in die saak waarin Charl Blom en Cobus Muller sowat R6.15 miljoen skadevergoeding van die instansie en sy rektor Jonathan Jansen eis.
Die eis spruit uit ‘n voorval waarin die twee verlede jaar van poging tot moord aangekla is en later deur die hof en Menseregtekommissie onskuldig bevind is. Hulle is kort na die voorval geskors en die kampus belet.
Volgens hul regsverteenwoordiger, Werner Human van AfriForum Jeug, wat die twee in hul eis bystaan, het hulle nog geen kennisgewing van verdediging ontvang nie, en hoewel hulle nie die inhoud van hul eis kan bespreek nie, kan hulle wel bevestig dat so ‘n eis bestaan.
Die studente het aanvanklik R1 miljoen ge-eis, maar dit het slegs betrekking op die laster-eis.
“Intussen toe ons met die voorbereiding van saak, het ons natuurlik na alle vorme van skade oorweeg en een van die vorme van skade is die vertraagde toetrede tot die arbeidsmark.
“Hier’s verskeie faktore wat in gedagte gehou moet word wanneer by ‘n bedrag uitgekom word. Soos byvoorbeeld watse tipe graad, die tipe professie wat die studente by is, wat was die vertraging gewees, met ander woorde die duur van die vertraging.
“Dit is toe dat ons uitgekom het op ‘n bedrag van R6 miljoen wat ons bereken het en ons moet dit ten einde in die hof bewys en ons totale eis is hier by R6.5 miljoen,” het Human vol vertroue aan Courant gesê.
Die Universiteit van die Vrystaat het die volgende verklaring uitgereik.
Die Universiteit van die Vrystaat (UV) lewer gewoonlik nie in die openbaar kommentaar op regsaangeleenthede waarby personeel of studente betrokke is nie.
Wat egter die herhaalde publisiteit betref wat ontstaan het as gevolg van eise deur voormalige studente Charl Blom en Cobus Muller teen die universiteit en lede van die senior leierskap, die volgende:
Volgens die advies van ons regsverteenwoordigers, beplan die universiteit om die eise van die voormalige studente sterk teen te staan. Die universiteit glo dat die eise sonder meriete bevind sal word wanneer al die bewyse openbaar gemaak word.







