Tuks verdedig titel, vier Kovsiespelers ingesluit in Wêreldbekergroep

0
1237

Mark Steenbok

Die Universiteit van die Vrystaat moes Vrydag met ‘n tweedeplek in vanjaar se Universiteit Sport Suid-Afrika-netbaltoernooi tevrede wees. Hulle kan egter hulle kop hoog hou met nie minder nie as vier staatmakers wat in die USSA Wêreldbekergroep ingesluit is.

Dit kom nadat die Kovsie-dames Vrydag vir die tweede agtereenvolgende jaar die knie moes buig teen die Universiteit van Pretoria Tuks. Hulle het in die Superliga-eindstryd met 39-48 teen die span van die Jakarandastad op die Universiteit van Johannesburg se netbalbaan verloor.

Ten spyte van die verloor het Karla Mostert, Lauren Lee Christians, Danelle Willemse en Ane Botha die Kovsie vlag laat wapper met hul insluiting in die USSA Wêreldbekergroep wat na Miami, Florida toe sal reis volgende jaar.

Die Kovsiespelers Mostert, Christians en Botha is verder ook beloon met hul insluiting in die span van die toernooi.

Sluit daarby in ‘n verdere vyf spelers wat in die CUCSA (Confederation of Universities and Colleges Sports Association) groep ingesluit is om diens te doen in Zimbabwe later vanjaar. Alicia Puren, Tanya Mostert, Danielle van der Merwe, Reze Strauli en Kgomotso Mamburu sal Kovsies verteenwoordig in die toernooi.

Die onderskeie eindstryde is gedomineer deur Pretoriaanse spanne met TUKS, TUT (Tswane Universiteit van Tegnologie) en SMHSU wat almal deurgedring het na die finale wat Vrydag plaasgevind het.

Die Sentrale Universiteit vir Tegnologie van Bloemfontein het in die halfeindstryd van die B-liga teen die uiteindlike kampioen (Wits Universiteit) verloor nadat hulle onorwonne was in die groep-fase van die toernooi. Die louere in die C-afdeling het aan die Zululand Universiteit gegaan.