CHRISTAL-LIZE MULLER
Die Mangaung-metro is nie ‘n uitsondering as dit by kritieke waterskaarste weens klimaatverandering en min reën in Suid-Afrika en in Afrika kom nie. Dit volgens munisipale woordvoerder, Qondile Khedama, nadat waterbeperkings Vrydag op ‘n raadsvergadering vir Bloemfontein, Botshabelo en Thaba Nchu ingestel is.
Khedama sê die metro soos in enige ander stad in die land staar uitdagings met betrekking tot water in die gesig. Hy sê die raad is in die proses om die fynere detail soos onder meer wanneer die beperkings ingestel gaan word en die tydsduur daarvan, vas te stel.
Volgens hom sal inwoners deurgaans op die hoogte gehou word oor besluite.
Die raad se besluit kom nadat verskeie openbare vergaderings sedert verlede jaar plaasgevind het waarop inligting oor die instel van waterbeperkings verskaf is.
DA-raadslid, Rossouw Botes, het Vrydag aan OFM-nuus gesê watervlakke van damme wat water aan die metro verskaf is laag en die situasie rondom watertekorte is nou slegter teenoor die situasie verlede jaar dié tyd.







