Snyman lek sy lippe af vir internasionale krieket

0
382
Die VBK Knights-aanvangskolwer, Jacques Snyman, tydens sy beurt van 65 lopies vir die KSA-uitnodigings-XI-tal in die eendagwedstryd teen Engeland op Boland-park in Paarl. FOTO: GETTY

Die gevaarlike VKB Knights se aanvangskolwer, Jacques Snyman, se droom sedert sy kinderdae, het waar geword toe hy Dinsdagaand by die Proteas krieketspan ingesluit is vir aanstaande maand se T20- Internasionale reeks teen Pakistan in Lahore.

Die 26-jarige Snyman is beslis nog ‘n melkbaard wanneer dit kom by eersterangse krieket, maar oor die afgelope seisoen en ‘n half het hy só ‘n groot indruk met die kolf gemaak dat sy insluiting in die span vir die reeks van drie wedstryde in Pakistan immers as geen verrassing kom nie.

Snyman het wel verlede jaar in Januarie ‘n voorsmakie van internasionale krieket gehad toe hy die Krieket Suid-Afrika Uitnodigings-XI-tal verteenwoordig het tydens ‘n eendagwedstryd teen Engeland op Boland-park in Paarl.

Hoewel Snyman meer bekend is vir vertonings met die wilgerlat, is hy net so ‘n gevaarlike wegbreek-draaibouler, en het hy die gewoonte om belangrik paaltjies in belangrike stadiums van ‘n wedstryd plat te trek. Die toestande wat in Pakistan verwag word, is sonder twyfel ideaal vir sy verwoestende spel.

‘n Opgewonde Snyman het aan Bloemfontein Courant gesê hy kan nie wag om sy staal te toon in internasionale krieket nie.

“Dit is ‘n massiewe droom wat waar word. Sedert ek ‘n klein seuntjie was, wou ek nog altyd my land op die krieketveld verteenwoordig. Nou het ek die geleentheid om dit te doen.

“Die afrigters, Allan Donald en JP Triegaardt, verdien albei baie krediet vir al hul hulp en dat hulle my spel bevorder. Ek is baie opgewonde om na ‘n hoër vlak op te skuif, meer te leer en om net my beste te gee.”

Die Knights se kaptein, Pite van Biljon, is ook in die toergroep. Hy het in die afgelope jaar ‘n gereelde speler in die Proteas se T20-span geword. Hy sal dié keer wel vir die eerste keer as ‘n Protea na die buiteland toer, en dit is iets waarna hy baie uitsien.

“Ek is baie opgewonde, want dit sal my eerste toer oorsee wees met die nasionale span. Ek sal graag ‘n groot impak wil maak en ‘n vertoning lewer wat ‘n wedstryd sal wen. Meer as een sulke vertonings sal natuurlik nog beter wees.

“Met betrekking tot Jacques. Hy is vuurwarm dié seisoen. Hy het regting baie goed begin in franchise-krieket. Hy het goeie vertonings gelewer en hy verdien sonder twyfel sy plek in die span. Hy werk ongelooflik hard aan sy spel. Hy bring ‘n vreeskfaktor na die boulers en hopelik kan hy dit doen en ook vir die wêreld wys waarvan hy gemaak is.”

Die eerste T20- Internasionale wedsryd tussen Pakistan en die Proteas sal op 11 Februarie in Lahore beslis word. – MORGAN PIEK