Smith pak ook sy koffer vir Italië

0
424
Rhyno Smith het in sy kort tydperk in Bloemfontein 'n groot impak gemaak en was selfs tydens die 2019/20 Guinness PRO14-seisoen aangewys as die voorste drie-drukker. FOTO: GALLO

Die massa-uitog van spelers by die Toyota Cheetahs duur voort met nóg van die span se sterre wat in die afgelope week met ander spanne verbintenisse aangegaan het.

Die slot, Reniel Hugo, wat onlangs sy terugkeer tot die Cheetahs gemaak het, is tot die Sharks verbind, wat daartoe lei dat die franchise se spens in dié department leeg is. Dit beteken nóg ‘n kopseer waarmee die breier, Hawies Fourie, sit.

Agterlangs is die Cheetahs met ‘n reuseslag getref nadat die sterheelagter, Rhyno Smith, wat ook gemaklik op die vleuelposisie is, bevestig het dat hy sy koffer gaan pak en koers vat na Italië.

Smith sal wel nog tot en met die middel van die jaar vir die Cheetahs beskikbaar wees, maar hy sal by Benetton Rugby in Treviso, Italië aansluit saam met die slot, Carl Wegner, wat die span tydens die Curriebeker aangevoer het.

Smith het aan Bloemfontein Courant gesê dat hy baie dankbaar is vir die Cheetahs en indien hy nie in Bloemfontein gespeel het nie, sou hy nooit die geleentheid gehad het om ‘n kontrak oorsee los te slaan nie.

“Niemand van ons kan kontrakte by ander unies kry as ons nie op die veld presteer nie. Dit word makliker inaggenome dat ons span goed moet speel. My kontrak in die buiteland word slegs moontlik gemaak deur sommige van ons PRO14-vertonings, veral in die vroeëre deel van die seisoen. Daarvoor sal ek altyd dankbaar wees. Nie net teenoor die spelers nie, maar ook die Cheetahs en die franchise wat my destyds gekies en ondersteun het.

“Ek en my vrou is baie opgewonde oor die toekoms en die nuwe geleentheid. Ons het nog altyd ons visier daarop gehad om na die buiteland te gaan. Terwyl ek by die Sharks was, was dit nie moontlik nie, want ek het net nie genoeg rugby gespeel om oorweeg te word nie. Ek is weer eens baie dankbaar vir elke geleentheid in my loopbaan tot dusver wat my tot by hierdie punt gebring het.

“Hopelik gaan ons eers in die middel van die jaar vertrek. Die Cheetahs het aangedui dat hulle van plan is om my te behou totdat my kontrak aan daardie kant begin. Ek is so dankbaar daarvoor en ek hoop dat ek in die volgende paar maande nog kan bydra.

“Dit is vir my belangrik om die vertroue en geleentheid wat hulle my gegee het terug te betaal met nog ‘n paar goeie vertonings op die veld.”

As Cheetah het Smith die toekenning vir die voorste drie-drukker tydens die 2019/20 PRO14-seisoen gewen.

Intussen is die slot, Rynier Bernardo, moontlik op pad terug na die Cheetahs nadat hy vir die Canon Eagles in Japan gaan speel het. Bernardo het aan Bloemfontein Courant gesê dat hy kommentaar sal lewer sodra alles afgehandel is. Die oud-Stormers en Southern Kings-stut, Schalk Ferreira, is ook tot ‘n skuif na die Rosestad verbind, terwyl die oud-Cheetah losskakel, Fred Zeilinga, ook op die span se radar is. – MORGAN PIEK