GEORG VAN ECK
Shimlas van die Universiteit van die Vrystaat en Crusaders van Bloemfontein het met die hoogste louere in Vrystaat se topklubrugbyliga weggestap deur die Stad- en Rowanbeker te verower.
Ongelukkig het die Stadsbeker-eindstryd tussen Shimlas en Irawas Vrydagaand op Shimlapark nie aan die verwagtinge voldoen nie omdat die Kovsies se provinsiale spelers (junior en senior) nie ingespan is nie.
Dit is was ’n fout om die Stadsbeker-eindstryd Vrydag op die vooraand van ’n langnaweek te laat plaasvind. Baie studente is reeds weg vir die wintervakansie en die ondersteuning was ook skraal.
Talle nuwelinge is deur die Shimlas en Irawas ingespan. Nogtans het die Irawas hardnekkig teenstand gebied en moes Shimlas vir elke punt werk. Beserings het die spanne verder gedurende die wedstryd ontwrig.
Aan die voorpunt van Shimlas se aanslag was die vurige haker, Marco Klopper, wat twee van sy span se drie drieë gedruk het vir sy span se sege van 17-5. Hy is goed ondersteun deur veral agtsteman Riaan Schoeman.
Die agttalle se samespel en ondersteuning was nie goed nie en die agterlyne die bal selde op die voorvoet gekry. Knap Shimlas-agterspelers soos Robbie van Schalkwyk, AJ Coetzer, Spoed Smith en Franna du Toit kon nie aan die gang kom nie.
Die Irawas het mening ingeklim ververwoed verdedig. Uitblinkers was Granville Adams op heelagter en ook die plaasvervanger-skrumskakel, Jandré Louw.
• Die Rowanbeker-eindstryd tussen Crusaders en Bloemfontein Polisie in die Clive Solomon-stadion was ’n klipharde stryd, wat met tye uitstekende rugby opgelewer het. Crusaders het met 41-25 geseëvier,
Beserings van sleutelspelers het Polisie ontwrig, maar Renier Steyn en sy Bobbies het einduit hardnekkig teenstand gebied teen Crusaders, wat die Vrystaat aanstaande jaar in die Cell C nasionale klubkompetisie sal verteenwoordig.
Oudergewoonte moes Crusaders ’n kragtige aanslag van Polisie se agttal afweer en dit het Anto van Heerden met die ondersteuning van veral Darius Viljoen, Randall Nelson en die ander voorspelers gedoen en selfs soms die oorhand gehad.
Dit wat egter die agterlyn wat die knoop vir Crusaders deurgehak het met die ervare Eddie Fredericks wat die leiding skitterend in die middelveld geneem het. Met blitsige spelers soos Leroy Bitterhout, Griffin Colby en Brandon Colby om die afronding te doen, het Crusaders uitieindelik ses drieë gedruk.
Vir Polisie het Adriaan Duvenhagen op senter saam met Tami Masinga (skrumskakel) en Frankie Ferreira (vleuel) in die agterlyn uitgeblink, maar dit was die vaste voorspelers met Anton Smith, Francois Saayman, Steyn en Mike Miles aan die voorpunt, wat die grondslag vir Polisie se aanslag gelê het.
Punte:
Shimlas 17 (10). Drieë: Robbie van Schalkwyk, Marco Klopper (2). Doel: Jannie Strumpher. Irawas 5 (0). Drie: Jandré Louw.
Crusaders 41 (17). Drieë: Leroy Bitterhout, Griffin Colby, Eddie Fredericks (2), Randall Nelson, Jerome Raffie; Doel: Griffin Colby (4). Straf: Giffin Colby. Bloemfontein Polisie 25 (8). Drieë: Jean Pienaar (2), Mike Miles, Frankie Ferreira. Doel: Ferreira. Straf: Ferreira.