Die Knights gaan op soek wees na ’n nuwe hulpafrigter vir die 2025/26 plaaslike krieketseisoen.
Lotli Sesele, wat voorheen as assistent vir hoofafrigter JP Triegaardt opgetree het, het Bloemfontein verruil vir Oudtshoorn.
Die 37-jarige is aangestel as die nuwe hoofafrigter van die Garden Route Badgers – ’n span wat hy ook as speler verteenwoordig het.
Daar is op hierdie stadium nog geen besluit geneem oor wie Sesele by die Knights gaan opvolg nie.
Oor sy aanstelling as hoofafrigter van die Badgers, het Sesele gesê hy sien daarna uit om terug te keer na die span waar hy sy spelersloopbaan afgesluit het.
“Dit is ’n ongelooflike eer om as hoofafrigter van die Badgers aangestel te word,” het Sesele gesê.
“Hierdie streek het ’n sterk pyplyn van opwindende jong talent, en aangesien ek self hier gespeel het, weet ek watter potensiaal daar is.
“Ek sien daarna uit om nou saam te werk met alle rolspelers en die breër SWD-krieketgemeenskap om ’n hoëprestasie-kultuur te vestig en die span na nuwe hoogtes te neem.
“My onmiddellike fokus sal wees om voor te berei vir die komende seisoen – om seker te maak die span is gereed, moderne afrigtingsmetodes toe te pas, en ’n wen-mentaliteit te kweek.”
Sesele was onlangs in Ierland gewees waar hy uitgehelp het met die land se nasionale krieketspan.
Intussen lyk dit of die Knights hul kontraktering vir die nuwe seisoen feitlik afgehandel het, en die goeie nuus is dat hulle die meeste van hul 2024/25-span kon behou. – MORGAN PIEK







