Sanger opgewonde oor eerste kunsuitstalling

0
515
Jacobus Silwer sien uit na sy heel eerste kunsuitstalling wat sy vrou, Lizzy, voorgestel het. FOTO: FLAMING FIRE PHOTOGRAPHY

Nadat die bekende sanger, Jacobus Silwer, ‘n paar sketse vir mense gedoen het, het sy vrou, Lizzy, hom aangemoedig om ‘n uitstalling te hou. Silwer vertel hoe hy nog altyd daarvan gehou het om met ‘n swart balpuntpen te skets en hoe dit hom fassineer. “Ek sou voorheen gereeld dierverwante sketse aanpak, maar nadat ek ‘n witgatboom moes skets, kon ek nie ophou om bome en woude te skets nie.”

‘n Unieke projek wat Silwer aangepak het, is om kremetartbome in sketse uit te beeld. “Die kremetartboom is besig om te verdwyn. Twee uit die nege spesies kom in Suid-Afrika voor en dit is asof albei se ‘horlosies gaan staan het’. Die sketse gaan heelwaarskynlik langer hier wees as die bome self,” verduidelik hy.

Een van Jacobus Silwer se vele sketse in die reeks oor kremetartbome.

Silwer se werk spreek van die diepte van sy gedagtegang. Dit is juis waarom bome en woude in alle vorme deel is van sy uitstalling. Wanneer hy na die Knysna-bos verwys, is sy woorde, “Die hele woud staan soos een volk met hul swartgebrande arms uitgestrek na bo, voete in die as, en smeek om uitkoms; verlossing van hul bestaan in die hande van hul verdrukkers… ons.”

Silwer is baie opgewonde oor die projek. Hy vertel dat dit vir hom ‘n absolute voorreg is om dit te kan doen, deur sy eie mense ondersteun te word, en sy werk boonop te kan uitstal in ‘n plaaslike kunsgalery.

Die werke verg baie tyd. ‘n Skets neem gemiddeld tussen vyf en 10 uur om te voltooi. “Dit was nogal ‘n uitdaging om klaar te kry, veral nadat ons eersteling, Emmalétjie, haar opwagting gemaak het.”

Die sanger/kunstenaar se kunswerke sal die aand van die uitstalling te koop wees ten bate van sy nuwe album en vir bemarking wat in 2019 plaasvind. Die groot aand vind op 25 Oktober by die Gallery on Leviseur om 18:30 plaas, die openingspreker en kurator is Marius Jansen van Vuuren, en die uitstalling duur tot 18 November. – Jeretha Oosthuizen 
jeretha@mahareng.co.za