Rooiwarm Kersmark vertoon Bfn-talent

0
1197
Een van die organiseerders, Sally Joubert.

Al was 2020 baie anders weens Covid-19 en al die regulasies wat daaruit gevloei het, kan Bloemfonteiners steeds uitsien na ‘n lekker saamkuiergeleentheid by die Rooiwarm Kersmark.

Volgens die organiseerder, Sally Joubert, is daar soveel talent en oulike idees in Bloemfontein. Sy en haar span wou graag die wyer gemeenskap betrek en ‘n plek bied waar buite-uitstallers stalletjies kan bespreek en hul kreatiewe skeppings kan uitstal.
“Ons visie draai rondom die konsep om ‘n lekker, veilige kuier-en-omgee-omgewing te bied vir Bloemfonteiners waar hulle bymekaar kan kom. Ons het ook hope vermaak om die kinders besig te hou met treintjies, sand art en groot glybane,” vertel sy.

Hierdie is nie net ‘n gewone mark nie, maak ook een wat na die gemeenskap kyk. Joubert het aan Bloemfontein Courant vertel hoedat hulle elke jaar geleentheid gee vir nominasies van begunstigdes vir die mark. Die Rooiwarm Mark-span stem dan vir sake wat hulle na aan die hart lê.

“Verlede jaar het ons meer as R10 000 geskenk aan Droogtehulp, bemagtingsprojekte vir straatbewoners, ‘n bydrae gelewer tot ‘n dogtertjie se gehoorapparaat en ‘n gedeelte aan Carpe Diem Kinderhuis geskenk.” Daar moet nog gestem word vir hierdie jaar se begunstigdes. “Ons wil egter ‘n gedeelte van die winste gebruik om ‘n rolstoelvriendelike badkamer in te rig op ons markterrein, sowel as ‘n doekruilstasie vir ouers met babas.”

Sy nooi Bloemfonteiners om te kom saamkuier en hulle te help om terug te gee aan die wyer gemeenskap. Almal wat betrokke is by die mark, is volgens Joubert vrywilligers wat hul tyd en talente gebruik om ‘n verskil te maak in ander se lewens. Die Rooiwarm Kersmark vird by die NG Kerk Universitas-Wes, beter bekend as die Rooikerk, se gemeenskapsentrum plaas.

Vir meer inligting, besoek hul Facebook-blad: Rooiwarm Markte of stuur e-pos aan.. rooiwintersmark@gmail.com. Die mark vind op 5 Desember van 16:00 af plaas.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za