Lize Pieterse het in 2012 aan Olympia Primêr in Heidedal begin onderwys gee. Sy het dadelik by hokkie betrokke geraak en nou begin die span die vrugte pluk.
Die span het nie net verlede week die o.14-seunsafdeling gewen op die ECHT (Elsie Coetzer Hockey School)-toernooi nie. Vir die afgelope twee jaar het die span geen ligawedstryde in hul afdeling verloor nie en ook die 2015- en 2016-Suid-Vrystaat-ontwikkelingstoernooie vir 0.13-spanne gewen. In 2016 was die span Durban toe vir die SA Winterspele en het vyfde uit die nege provinsies geeïndig.
“Die toernooi is die kersie op die koek ná drie jaar se harde werk,” sê Pieterse
Olympia se spelers kom uit lae-inkomste-huishoudings en Pieterse voel dat sy deur hokkie ‘n verskil maak in die spelers se lewens. “Die beste gevoel is om te weet die spelers styg bo hul omstandighede uit en gebruik hul God-gegewe talent om hul lewe te verander.”
Soos elke ander span, het Olympia ook sy geheime wapen wat tot hul sukses lei. “Die spelers het baie natuurlike talent en hokkie is hul lewe. Hulle is baie pligsgetrou en toegewyd en hulle doen alles met honderd persent oorgawe.”
Olympia het geen hokkiegeriewe by die skool nie. Die spelers oefen op `n halwe tennisbaan met net die basiese toerusting. Dis waar Elsie Coetzer en ECHS `n groot rol speel aangesien hulle baie betrokke is by die ontwikkeling en bevordering van hokkie by Olympia. Hulle het uitstekende afrigters wat nooit skroom om hul kennis en vaardighede met afrigters en die spelers te deel nie. Die spelers het ook topklas-afrigting gedurende die toernooi van ECHS-afrigters ontvang.Pieterse meen die belangrikste is die spelers se passie vir die spel en die feit dat hulle elke wedstryd sien as nog `n kans om te doen waarvoor hulle lief is.
Pieterse werk baie keer onder baie moeilike omstandighede met die spelers. Dit is belangrik dat sy positief bly en die spelers motiveer. Sy verklap dat sy en die spelers `n baie oop verhouding het en sy weet wat in elkeen se lewe aangaan.
“Hulle is amper soos my eie kinders. Ons respekteer mekaar en weet ons doel is by elke geleentheid ons bes te doen.”
Elke afrigter is trots as ‘n span goed vaar, en sy het rede, juis omdat haar span die o.14-seunsafdeling gewen het. “Dit was `n harde toernooi en elkeen moes meer as 100% gee elke keer wat ons op die veld gegaan het. Dit was `n baie emosionele ervaring en ek kan net baie dankbaar wees en dankie sê aan almal wat betrokke was.” – Jeretha Oosthuizen
info@bloemfonteincourant.co.za
Date:
Pieterse en Olympia vorm wenkombinasie
Lize Pieterse se wenspan, Olympia.