Indien jy een van die atlete is wat ‘n byeenkomsrekord verbeter by die jaarlikse KFC prestige-uitnodigingsatletiekbyeenkoms wat deur die Laerskool Fichardtpark (Fichies) aangebied word, loop jy oor van talent. Want, die meeste van hierdie byeenkomsrekords vergelyk goed met nasionale standaarde- én rekords.
Die 2015-byeenkoms wat Saterdag in Bloemfontein beslis is, was oudergewoonte uitstaande en nie minder nie as 22-byeenkomsrekords het in die slag gebly. Die seuns was hiermee ‘n kortkop voor met 12 van die 22-rekords. Juandré Pienaar van Tjokkies (Laerskool Universitas) was die deelnemer wat die verbeelding die meeste aangegryp het en die toeskouers soos een man se aandag vasgevang het. Hierdie hoogspringer (12-jaar) met die veerkrag van ‘n kudu het reeds die toeskouers aan die raas gehad toe hy op ‘n goeie hoogte van 1,51 m sierlik op die dwarslat geseil het.
Einde was dit egter nie. Die dwarslat is daarna elke keer met drie sentimeter verhoog en Pienaar is met sy eerste van drie toelaatbare pogings gerieflik oor op onderskeidelik 1,54 m én 1,57 m.
Dit was asof die Mangaung-stadion tot stilstand gekom het en jy kon ‘n speld hoor val toe Pienaar aantree vir ‘n hoogte van 1,60 m. Hy is netjies oor dié hoogte en nog voor hy die hoogspringsakke getref het, het die toeskouers ontplof en hom staande toegejuig. Hy kon egter nie oor ‘n hoogte van 1,63 m spring nie, maar sy derde poging was bitter naby.
Gepraat van hoogspringers, die Rosestad het onder die meisies óók ‘n groot naam vir die toekoms – Annika Herbst (Oranje). Sy het in die meisies 13-jaar-ouderdomsgroep net so goed (indien nie beter nie) as Pienaar vertoon toe sy dié afdeling met ‘n puik sprong van 1,57 m gewen het. En, dit is slegs drie sentimeter laer as Pienaar se genoemde wenhoogte.
Nog drie atlete het byeenkomsrekords verbeter en hulle vertonings Saterdag gaan hulle teenstaanders by die Suid-Afrikaanse laerskolekampioenskap nou reeds nagmerries gaan besorg.
Karla Victor (Oranje) het die 70 m-hekkies gebuit in ‘n blitsige 12,84 en sy sou met hierdie tyd die wenner van verlede jaar se nasionale kampioenskap (13,02) met sowat ‘n meter pak gegee het.
Dan het die twee atlete van die Vrystaatse Goudvelde, Ilke de Klerk (Welkom Volkskool) en Diesel van Dyk (Virginia Volkskool) in onderskeidelik die gewigstoot vir meisies en seuns 10-jaar beter vertoon as die gouemedalje wenners by die nasionale-byeenkoms in 2014.
De Klerk (9,05) het 11-sentimeter verder as die 2014-SA-kampioen (8,94) gegooi terwyl Van Dyk (10,71) sy ysterbal laat gras smaak het ‘n goeie 20-sentimeter verder as die nasionale kampioen van 2014 (10,51).







