Pasop vir sosialemedia-swendelary

0
2259
KwikSpar-bestuurder, Roux Grobler, met die waarskuwingskennisgewing om klante bedag te maak op swendelary. FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

KwikSpar Prellerplein waarsku klante en lede van die publiek teen valse promosies en geskenkkaarte wat die rondte op sosialemedia-platforms soos Facebook en WhatsApp-programme doen.
Volgens die winkel se bestuurder, Roux Grobler, is skakels (links) op verskeie sosialemedia-platforms gedeel en mense is in kennis gestel dat hulle ‘n geskenkkaartjie ter waarde van R4 000 van Spar ontvang het. Grobler waarsku verbruikers dat dit niks anders nie as ‘n bedrogspul is waar kuberkrakers besighede probeer boikot.
“Mense moet versigtig wees watter inligting hulle met ander deel en ook dat private inligting nie oor die telefoon verskaf word nie,” sê Grobler. Hy stel voor dat indien mense ‘n promosie sien of inligting oor ‘n prys van ‘n organisasie ontvang, dit die beste is om die winkel persoonlik te besoek of die winkelbestuurder persoonlik te skakel om te voorkom dat bedrog plaasvind.
“Die laaste voorval was ongeveer twee weke gelede toe mense valse inligtingskakels op sosiale media gedeel het,” sê Grobler. Volgens hom was daar gelukkig nog geen insidente by KwikSpar Prellerplein nie.
‘n Risikobestuurspan is aangewys om maatskappye en verbruikers te waarsku oor gevalle waar mense hul stelsels probeer kraak (hack) en verbruikers word gevra om swendelary onmiddellik aan te meld.
Kuberkraking beteken dat daar op ongemagtigde wyse ingebreek word op ‘n rekenaar of netwerk. Die persoon wat betrokke is by kuberkraak-aktiwiteite word gewoonlik ‘n kuberkraker (hacker) genoem. So ‘n persoon kan stelsel- of sekuriteitsfunksies verander om ‘n doel te bereik wat verskil van die oorspronklike doel van die stelsel.
Grobler wil die publiek inlig sodat mense bewus kan wees van swendelary en kuberkrakers. “Mense moet versigtig wees en nie vertroulike inligting deel of enige skakels oopmaak wat verklaar dat hulle ‘n prys gewen het sonder om eers met die organisasie te gesels nie,” sê Grobler.
Klante wat KwikSpar Prellerplein besoek, sal ‘n bordjie in die winkel sien met die besonderhede van die skakel wat deur sosiale media versprei word, asook ander inligting rakende dié bedrogspul.

PIERCE VAN HEERDEN 
pierce@mahareng.co.za