Pak ‘n Boks vir ‘n Boer

0
251
Die nasionale woordvoerder vir AfriForum se veldbrandprojek, Henk Maree, staan hier op een van die plase wat deur die verwoestende veldbrande geraak is.

Bloemfonteiners word uitgedaag om die boeregemeenskap van die Wes-Vrystaat, wat onlangs deur verwoestende veldbrande geraak is, te help deur ‘n “Boks vir ‘n Boer” te pak.

Volgens die nasionale woordvoerder vir die brandprojek, Henk Maree van AfriForum, is die Boks vir ‘n Boer-projek geloods om die boeregemeenskap in plekke soos Hertzogville, Boshof, Hoopstad, Dealesville en Bultfontein te ondersteun ná verlede week se brande.

Die projek is begin nadat AfriForum besluit het om betrokke te raak en boere te help ná die verwoestende brande waar honderde stuks vee, waaronder beeste, skape en wild, doodgebrand het. “Boks vir ‘n Boer is slegs een been van ‘n baie groter inisiatief om boere te help.”

Hy sê die projek behoort baie suksesvol te wees omdat so baie organisasies, soos onder meer Agri NW, Vrystaat Landbou, Caring Daisies, Gift of the Givers, SAAI, TLU Noordwes en Boere in Nood, besluit het om met AgriForum hande te vat.

Maree het aan Bloemfontein Courant verduidelik dat boere weens die brande baie van hul besittings verloor het en daar ‘n nood is vir basiese artikels. “Mense word gevra om produkte soos toiletware, blikkieskos, beskuit, koekies, koffie, tee, suiker, langlewemelk en oor-die-toonbank-medisyne in ‘n boks te pak.”

Hy sê die ondersteuning van die geemeenskap was tot dusver ongelooflik. Mense is ook welkom om ‘n finansiële bydrae te maak vir onder meer petrol, diesel, hoekpale en vee.
Bloemfonteiners kan hul bokse by die NG Kerk in Gardeniapark, Jasmynlaan 3, Gardeniapark, aflewer, nie later nie as 30 Oktober. Daar is ook ander aflaaipunte hiervoor in die stad.

Die bokse word op 31 Oktober na brandgeteisterde gebiede in die Vrystaat geneem. Vir meer inligting kan mense vir Maree ‘n e-pos stuur na: henk.maree@afriforum.co.za
Vrystaaters kan ook vir Louis Badenhorst, wat ook ‘n projek bedryf om boere te help, kontak as hulle graag ‘n vers of ‘n ooilam vir die boeregemeenskap wil skenk.

Volgens Badenhorst is die nood steeds groot in die gebiede waar dit gebrand het, en hy het gevolglik besluit om met ‘n projek te begin waar ‘n vers of ooilam geskenk word aan boere wat al hul diere verloor het in die brande by Dealesville, Hertzogville en Boshof.

Badenhorst het aan Bloemfontein Courant vertel dat die projek geen sluitingsdatum het nie en dat mense wat in ‘n posisie is om te kan help, hom moet kontak. Hy sê ook dat die wat nie ‘n vers of ‘n ooilam kan skenk nie maar steeds wil help, ook kontant kan gee of diereprodukte (kos en medikasie vir diere). Volgens hom kan gereël word vir ‘n aflaaipunt in Bloemfontein, hoewel hulle ook probeer om insamelings by mense op te laai.

Hy sê hulle word reeds goed ondersteun en hy glo dat daar nog meer skenkings sal inkom. Mense wat graag skenkings wil maak of op ‘n ander wyse wil help, kan Badenhorst kontak by 083-262-2518.

Sazly Hartzenberg

sazly@centralmediagroup.co.za