Oud maar nog nie koud

0
1244
Piet Nel, wat sy 90ste verjaardag op 13 Maart gevier het.

Om die ouderdom van 90 te bereik is beslis ‘n mylpaal, maar om op daardie ouderdom steeds aktief te wees, is iets wat baie ander nie net begeer nie, maar ook bewonder.

Piet Nel, wat sy 90ste verjaardag op 13 Maart gevier het, is steeds aktief op die rolbalveld en word hoog geag deur sy mede-rolbalspelers.

Michael Coomans, wat in 2018 saam met Nel begin rolbal speel het by Hillandale se rolbalklub, beskryf Nel as ‘n beter rolbalspeler as meeste mense jonger as hy.

Piet Nel, wat sy 90ste verjaardag op 13 Maart gevier het.

“Piet is op 13 Maart 1931 in Winburg gebore en het aan die Hoërskool Warden gematrikuleer. Daarná het hy BCom aan die Universiteit van die Vrystaat studeer en later by Grey-kollege begin skoolhou. Oorlede Ewie Cronjé, bekende sportlegende en pa van Hansie Cronjé, was ‘n leerder in sy klas,” vertel Coomans.

Coomans voeg by dat Nel ook vir Vrystaat rugby gespeel het en op vleuel diens gedoen het. “Ons vermoed dat hy tans die oudste lewende Vrystaat rugbyspeler is.”

Hy vertel verder dat, afgesien daarvan dat Nel gereeld nog reis, hy steeds aktief rolbal speel en “selfs beter buk as ek, wat heelwat jonger as hy is”.

“Piet het aktief deelgeneem aan vele sportsoorte, soos onder meer rugby, krieket, gholf en tennis. Hy het gesond gelewe, maar ek glo die rype ouderdom wat Piet behaal het, het te doene met die gene wat hy by sy ma geërf het. Sy het baie oud geword. Hy het ook ‘n niggie wat 103 jaar is en in Steynsrus bly,” sê Coomans.

Die Hillandale-rolbalklub het Saterdag 13 Maart 2021 Nel se verjaardag gevier en eer aan hom betoon vir die uitstekende sportman wat hy is.

Heidre Malgas
heidre@mahareng.coza