Die nie-winsgewende organisasie, Justice for Farm Murders South Africa, het baie planne vir die res van jaar, met hul belangrikste doel, ’n bydrae om die boere in Suid-Afrika te red.
Direkteur en stigter van die organisasie, Jo-Anne Cloete, het aan Bloemfontein Courant gesê dat die organisasie in Junie vanjaar gestig is met die doel om aan alle boere beskerming en sekuriteit te bied en veediefstal en vandalisme op plase te voorkom.
Cloete het gesê hulle hoop om boere toe te rus met die nuutste tegnologie wat aan ’n satelliet gekoppel is. Sy het verduidelik dat dit ’n baie gevorderde stelsel is, maar dat sy nie te veel kan sê voordat sy nie met meer boere in die land gepraat het nie. “Dit is een van die beste stelsels op die mark. Dit is al klaar getoets en die resultaat was oorweldigend. Dit werk sonder elektrisiteit en sonder einge sein.
Dit bied ook ’n gemeenskapsgedrewe toepassing waarby die hele boeregemeenskap betrokke kan raak, ’n knoppie gekoppel aan ’n satelliet.” Cloete doen ’n beroep op gemeenskappe om betrokke te raak by Justice for Farm Murders South Africa en om op die organisasie se webwerf te registreer.
Daar kan ook inligting gekry word oor geleenthede en op blogs kan meer gelees word oor wat die organisasie bied. Donasies kan ook hier gemaak word. Volgens Cloete het hulle ook ’n “winkel” waar mense klere en baie ander voorrade kan koop. Die geld sal gebruik word om te help om die stelsel van die grond af te kry.
“Geleenthede waaraan ons werk, is onder meer ’n bekendstellingstoer in elke dorp. Hier sal sekuriteitsbeamptes met boere praat en bepaal of daar ’n behoefte is vir opleiding. Ons beplan ook ’n vreedsame optog in September.” Cloete sê hulle probeer ook om groot ondernemings betrokke te kry en doen ’n beroep op hulle om met haar in verbinding te tree.
Hulle hoop om in die toekoms ’n traumaberadingseenheid op te rig vir boere wat trauma beleef het. Belangstellendes kan via hul Facebookblad kommunikeer of ’n e-pos stuur na [email protected].
Sazly Hartzenberg







