E Copy

Date:

Onderwysdepartement gereed vir 2013

Lani Fouché

Dit is vandag presies twee weke sedert die opening van skole in die Vrystaat. Terwyl leerders stewig in die banke sit en smiddae hulleself besig hou met buitemuurse aktiwiteite, beraam die provinsiale onderwysdepartement en ander rolspelers planne om akademiese prestasie in 2013 verder te verbeter.

Die departement sê die opening van skole op 7 Januarie het glad verloop, met ’n paar gevalle van laat registrasies en ander klein probleempies wat by sekere skole aangemeld is. “Oor die algemeen het dit baie goed gegaan. Ons inligting wys dat alle skole hul handboeke van die departement ontvang het,” sê woordvoerder Howard Ndaba.
Hy sê dit sal egter eers later bekend word waar daar nog uitstaande boeke is, omdat sommige skole laat leerders ontvang wat dan ’n tekort tot gevolg het.

Departementele amptenare het 110 skole in die eerste week besoek. “Probleemareas is geïdentifiseer en ons werk daaraan om die skole optimaal funksionerend te kry,” verduidelik Ndaba. Volgens die onderwysersorganisasie, Naptosa, lyk alles egter nie so rooskleurig nie. Woordvoerder, Louwrens Strydom, sê die voortslepende probleem van té min handboeke is steeds aanwesig by talle skole. “Dit bekommer ons dat van die skole steeds nie verlede jaar se grondslagfase boeke gekry het nie. Daardie boeke moet vir vyf jaar gebruik word, gevolglik het daardie skole steeds nie die boeke om mee te werk nie. Daardie kinders sit met ’n geweldige akademiese agterstand.”

Volgens Strydom is laat inskrywings ook weer vanjaar ’n probleem. “Daar is ’n hele klomp skole wat reeds vol is, maar ouers stroom steeds in om hul kinders te registreer.”  Ndaba het hieroor gesê die departement sal dit vanjaar verpligtend maak vir ouers om hul kinders teen Julie te registreer en geensins later nie. Die LUR vir onderwys in die Vrystaat, Tate Makgoe, het in sy terugblik op 2012 lof gehad vir die matriekklas van 2012: “Die prestasie van die klas van 2012 het weereens gewys dat die Vrystaat aan die room van die land se onderwyskringe behoort.”

Hy sê hy wil egter die aantal matrikulante oor die volgende twee na drie jaar van net oor die 24 000 tot 30 000 vermeerder. “Daar is té veel kinders in die Vrystaat wat nie skoolgaan nie. Ons wil graag elke kind agter ’n skoolbank hê.” Die fokus sal ook vanjaar van die grondslagfase verskuif na die seniorfase, wat grade 7 tot 9 insluit. “As kinders op laerskoolvlak goed presteer, sal hulle goed doen in matriek,” sê Makgoe. Die wiskunde-gemiddeld onder graad neges in die Vrystaat van 15% is wel beter as die nasionale gemiddeld van 13%, maar volgens Makgoe dui dit op ’n probleemarea wat vanjaar spesiale aandag sal geniet. Daar is 76 skole in die provinsie wat in 2012 ’n matriekslaagsyfer van 70% of minder gehad het, wat ook deur die departement gedruk sal word om beter te presteer.
Makgoe sê vanjaar mik hulle vir ’n 85% matriekslaagsyfer – teenoor verlede jaar se 81.1%.

Share post:

Popular

More like this
Related

UFS pianist debuts in Madrid

The University of the Free State (UFS) has celebrated...

NFVF invites applications for public screening funding

The National Film and Video Foundation (NFVF) has opened...

CUT responds to sexual harassment allegations

The Central University of Technology (CUT) has responded to...

ADVERTORIAL: Meet our team of specialists

Life Rosepark Hospital is proud to introduce a dynamic...