Duane Petrus – ‘n Nuwe politieke party sê hulle is verbaas met die party se vinnige groei en dat die groot getal lede wat in ‘n kort tydperk by hulle aangesluit het, bó hul aanvanklinke verwagting is.
Die Nuwe Ekonomiese Vryheidsfront is op 27 Augustus deur die Ekonomiese Vryheidsvegters se voormalige Thabo Mofutsanyana distrikskoördineerder, Wonder Sentimile gestig.
Sentimile sê in die maand-en-‘n-half wat die party bestaan, het meer as 10 000 lede al by die party aangesluit.
Hy sê die meerderheid van hulle is ontevrede voormalige EFF-lede, hoewel hulle nooit daarop gefokus het om dié party se lede te lok nie.
Sentimile voeg by sy party se doel is om politieke en ekonomiese vryheid vir minder bevoorregte inwoners van die land te verseker.
"Die rede hoekom ons politieke vryheid soek is omdat ons glo mense is tans nie vry om aan enige politieke party te behoort en hulle moet voorgee dat hulle sekere partye steun om voordele te kry," sê hy.
Die EFF se woordvoerder Mbuyiseni Ndlozi, was nie beskikbaar vir kommentaar nie.