Dirk Kok
Twee van die lugmag se gedugte helikoptervlieëniers, albei lede van die VN se ingrypingsmag in die DRK, is op ‘n parade op die Bloemspruit-lugmagbasis onderskeidelik in bevel geplaas van die eskader vir die Rooivalk-aanvalshelikopter en van die helikoptervliegskool. Die basis het ook ‘n nuwe bevelvoerder gekry.
Oscar Mkhize, ‘n voormalige MK-helikoptervlieënier en lugmag-intelligensie-offisier wat die laaste jare verskeie bevelsposisies beklee het, is die nuwe basisbevelvoerder. Hy neem oor by Chris Opperman wat vyf jaar lank bevelvoerder van die basis was.
Opperman, wat op Harrismith gebore is en in Qwaqwa grootgeword het, is as die weermag se senior stafoffisier vir lugoperasies in Pretoria aangestel.
Danie Bellingan staan nou aan die hoof van 16 Eskader, tuiste van die Rooivalk. Hy neem oor by Robert Buys wat bevelvoerder van 87 Helikoptervliegskool word.
Bellingan was in November deel van die eerste oorlogvoering met Suid-Afrika se Rooivalke, waarmee die M23-rebelle in die DRK tot oorgawe gedwing is.
Bellingan het in 1996 by die Lugmag aangesluit en verskeie vlieg- en instrukteurskursusse voltooi. Hy het ‘n leidende rol gespeel in die ontwikkeling van die Rooivalk se nuwe wapentuig.
Buys, ‘n oud-Kovsie, het in 1988 lugmagvlieënier geword en in 1989 helikoptervlieënier. Hy het verskeie kursusse deurloop en het ‘n spesialiskwalifikasie in nagvlieg. Hy het ook kwalifikasies in vliegveiligheid en is ‘n vliegongeluk-ondersoeker en ‘n gesoute vlieginstrukteur. Hy het ook ‘n leidende rol gespeel in die inbring en vestiging van die Italiaanse Augusta-helikopter in die lugmag. Hy het pas van diens in die DRK teruggekeer.
Buys neem oor by Olaf Ohlssen wat die afgelope jaar waarnemende bevelvoerder van die vliegskool was.
Mkhize sê hy wil Bloemspruit, wat jaar ná jaar een van die land se beste basisse is, die heel beste maak.
Date:







