Niemand vas nadat arsenaal wapens en ammunisie gevind is

0
921

Die polisie in die Vrystaat soek nog na mans wat ‘n silwer BMW met ‘n arsenaal vuurwapens en ammunisie agtergelaat en weggehardloop het ná ‘n jaagtog met die polisie by Bothaville. Polisiewoordvoerder, Motantsi Makhele, sê ‘n misdaadintelligensie-gedrewe operasie is Vrydag in Welkom begin.

Lede van die Welkom-blitspatrollie en die plaaslike K9-eenheid het op inligting gereageer.

Makhele sê ‘n verdagte motor was Vrydag laatmiddag in Riebeeckstad geparkeer. Die bestuurder van die  motor het weggejaag toe hy die polisie gewaar het. Polisiebeamptes het die motor agternagesit tot by Nampopark by Bothaville. Makhele sê die onbekende getal booswigte het uit die motor, wat vervalste nommerplate gehad het, gespring en weggehardloop.

Dit het later aan die lig gekom dat die BMW vroeër by Walmer in die Oos-Kaap gekaap is.

Hy sê drie R5-aanvalsgewere, twee LM-5-gewere, ‘n .357-rewolwer, meer as 400 R5-patrone, 26 9mm-patrone, agt 357mm-patrone en ‘n magasyn van 9mm-patrone is in die motor gekry.

Die rewolwer is vermoedelik verlede jaar in Middelburg gesteel.

Daar is ook op blou ligte, drie stelle vervalste nommerplate en plofstof met ontstekers beslag gelê. Klapmusse, maskers en handskoene is ook gekry.

Hy sê die vuurwapens sou vermoedelik in ‘n beplande rooftog gebruik kon word. Enigiemand met inligting kan hul naaste polisiekantoor bel.

Christal-Lize Muller/ OFM NEWS