Christal-Lize Muller
Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) steun die meer as honderd gesondheidswerkers en lede van die TAC wat verlede week in Bloemfontein in hegtenis geneem is nadat hul aan ‘n sitstaking by die Vrystaatse departement van gesondheid deelgeneem het.
Woordvoerder vir die komissie, Isaac Mangena, sê die werkers het wettige besware gehad en die kommissie ondersoek ook tans op nasionale vlak die rol van gesondheidswerkers en die ondersteuning wat hulle moet ontvang. Kwessies rondom gesondheidswerkers se besware teen swak infrastruktuur word ook ondersoek.
Volgens Mangena oorweeg die kommissie nou die moontlikheid om ‘n ondersoek te begin rondom die betrokke gesondheidswerkers se regte.
Die gesondheidswerkers het verlede week betoog teen die swak toestand van gesondheidsdienste in die Vrystaat. Hulle het ook geëis dat die LUR van gesondheid, Benny Malakoane, die trekpas kry.







