E Copy

Date:

Kolskoot – 10 July 2014

Goeiedag

“Soos julle weet, nuwe reëls geld vir ons weeklikse indaba. Daar sal elke week ’n nuwe voorsitter wees en al die lede moet onderwerpe vir bespreking voor elke Sondag indien, met die nodige motivering. Ná verlede week se struwelinge het Oom Sjert met die voorstel gekom en hy sal vandag die voorsitter wees. Verstaan julle die reëls?” begin Stywelip Carrington ons samesprekings formeel en amptelik.
Stilte heers voordat Oom Sjert sy keel skoonmaak en sê: “Ek het meer as tien voorstelle vir bespreking ontvang, wat heeltemal te veel is. Sake wat bespreek word, is Superrugby met spesisale verwysing na SA spanne en Victor Matfield se skrumpet, tennis, sokker en atletiek, krieket, en as daar tyd oor is, die Statebondspele.”
“Geluk, Oom Sjert, jy was in die kol met die Cheetahs en die Stormers wat gewen het. Die probleem vir my is dat dié seges die Haaie se kans om onder die top-twee in die reeks te eindig ’n gevoelige slag toegedien het en dat die Bulle se nederlaag hulle uit die wedloop geskakel het. Erger nog, nou het die gekamoefleerde skrumpet van Matfield nie net Cosatu ongelukkig nie, maar Bul-ondersteuners ook, want die Bulle het, danksy hul rêrig belaglike kamoefleertruie en die Stormers se spel, skoon verdwyn op Nuweland,” begin Bontie Bonthuys.
“Ek stem volmondig saam. Saterdag se SA derbies gaan ewe opwindend wees, want die Haaie moet die Stormers klop en die Cheetahs pak die omgekrapte Leeus op Ellispark. Behalwe dat die Haaie en Bulle op hul neuse gekry het, het die plaaslike derbies gewys hoe groot ons land se rugbytalent is. Skielik het spelers soos Kurt Coleman, Oupa Mohoje, Cobus Reinach, Nizaam Carr, Philip van der Walt en Rayno Benjamin sterk op die voorgrond getree. Saru slaap, want ons verloor spelers wat na ryker weivelde oorsee gaan. Maak soos die Aussies en laat geen speler wat oorsee speel die Bok-trui oor sy kop trek nie,” kry Sporie Bezuidenhout sy kans.
Vergete is die reëls. Almal praat gelyk, maar gelukkig hou Oom Sjert kop. “Nou is dit tennis se beurt.”
“Bontie, jy het reg voorspel met Novak Djokovic. Hy het die Wimbledonse manstitel in een van die opwindenste wedstryde nog teen Roger Federer gewen. Soos meeste van ons wou ek ook gehad het Federer, met sy SA verbintenis, moet wen. Djokovic is egter ’n waardige kampioen,” probeer Botterbul om die aandag van rugby af te kry.
“Ek moet erken ek het heeltemal van Petra Kvitova vergeet. Sy was verwoestend teen Eugenie Bouchard en verdien die vroue-titel. Ek dink steeds Bouchard en spelers soos Grigor Dimitrov is die begin van ’n nuwe tennis-era,” laat Stywelip van hom hoor.
“My Hollanders is steeds besig om die ronnebol-wêreld aan die brand te speel in Brasilië. Dit is Nederland, Duitsland, Argentinië en Brasilië vir die Wêreldbeker in sokker,” probeer Sporie ons indaba kaap.
“Vergeet sokker. Wat van Cornel Frederick in die 400-hekkies? Nee, wat van die Proteas se eendag-krieket-sege oor Sri Lanka?” Dit is weer die selle ou storie.

Groetnis

Share post:

Popular

More like this
Related

FS teachers won’t lose medical benefits

Following days of uncertainty, the Free State Department of...

Surviving the VAT increase

During the Budget Speech last week, Minister of Finance...

Geraasbesoedeling in Universitas: Inwoners kla oor nagklubs in Willows

Inwoners van Universitas het hul stem dik begin maak...

11-jarige voltooi Kaapstad Fietsrytoer saam met oupa

Die 2025 Kaapstad Fietsrytoer se jongste deelnemer, die 11-jarige...