Bloemfontein – Die Suid-Vrystaat (SVS)-meisies o.18-hokkiespan was op die oorlogspad by verlede week se tussenprovinsiale toernooi wat in Durban beslis is. Ná twee probeerslae in vorige eindrondes (2012 en 2013) was dit die derde keer skeepsreg vir die meisies van Bloemfontein.
Met die kaptein, Antonet Louw (Oranje) wat tydens die toernooi met voorbeeld gelei het, het die SVS vanjaar kopgehou in die eindronde teen KwaZulu-Natal-binneland se elftal en met 3 – 1 die septer geswaai.
Mirrie van Wyk (Oranje) het twee doele aangeteken en Louw was oudergewoonte op die telbord met ‘n doel.
Louw, wat verlede jaar die voorste doelskieter van die toernooi was, het vanjaar weer so gemaak toe sy nie minder nie as 13 doele in haar teenstanders se doelhok laat klap het.
Die SVS het in hulle opmars na die eindronde seges met reëlmaat ingeryg en die toernooi begin met ‘n reuse-oorwinning van 8 – 0 oor die Westelike Provinsie se B-span. Daarná het Suid-Gauteng B (6 – 0), Amathole (4 – 0), KwaZulu-Natal-binneland (4 – 3) en KwaZulu-Natal Coastals (6 – 4) bloedneus gekry teen die Bloemfonteiners.
Slegs die Westelike Provinsie se A-span kon ‘n indruk maak op die SVS toe hulle gelykop (1 – 1) gespeel het.
Vier van die SVS-span is ingesluit in die Suid-Afrikaanse skolespan wat dié week koppe stamp teen hulle eweknie van Australië. Die eerste wedstryd was Dinsdagaand in Pietermaritzburg.
Die Suid-Vrystaters in die genoemde nasionale span is Louw, Priscilla Esterhuyse (albei Oranje), Marizen Marais (Eunice) en Shindré-Lee Simmons (St. Michaels).







