Duane Petrus
Die bestuurder van ‘n MediClinic bakkie wat gisteroggend in Bloemfontein deur vier mans gekaap is, sal na verwagting berading van die hospitaal se traumaberaders ontvang.
Die hospitaal se woordvoerder, Amanda Appelgryn, sê die man het ligte beserings in die aanval opgedoen.
Sy sê glasstukke het hom in sy nek en gesig gesny toe een van die rowers ‘n venster met sy geweer gebreek het.
Die mans het volgens haar op die bewegende bakkie gespring.
Die bestuurder het toe na die hospitaal se perseel gery, met die hoop dat dit die rowers sal afskrik.
Hulle het na bewering op sekuriteitsbeamptes op die hospitaalperseel en ook op die bestuurder van die bakkie geskiet.
“Hy is rustig en kalm, ek dink nie wat gebeur het het al ingesink by hom nie. Ons het traumaberaders aan diens, so ons sal vir hom die nodige ondersteuning gee,” sê Appelgryn.
Die verlate Toyota-bakkie is later is Brandwag gevind.







