Misdaadondersoeke deur die polisie in die Suid-Vrystaat word ernstig gekortwiek weens die tekort aan voertuie en die uitplasing van polisiebeamptes by die honde-eenheid (K9)-in Bloemfontein. Volgens 'n brief wat aan Bloemfontein Courant gelek is, kon lede van die eenheid verskeie misdaadtonele nie besoek nie weens die tekort aan voertuie. Dié spesialiseenheid is bekend vir sy misdaadsuksesse met dwelms, spoorsny, plofstof, veediefstal, moord en die opsporing van vermiste persone. Die brief – wat die eenheid se klagtes met voertuie uiteensit – dui aan dat hul voertuie deur die seksie-bevelvoerder, majoor-generaal Phumzo Gela, "uitgeleen" word aan ander polisiekantore, of gekonfiskeer word.
Die lede sê sommige van die voertuie is spesiaal ingerig vir die vervoer van honde, maar word nou vir normale misdaadvoorkoming deur ondermeer Parkweg-polisie gebruik. Die onderhoud en brandstof vir die voertuie word egter nog steeds deur die honde-eenheid gefinansier.
Polisiebeamptes moes toe by die aanklagkantoor in Parkweg diens doen en is deur Gela beveel om voetpatrollie te doen omdat hulle nie voertuie het om misdaadtonele te ondersoek nie. In die brief sê polisiebeamptes van die eenheid dat van die klagtes waarom hul voertuie afgetrek word, die hoeveelheid kilometer is wat afgelê word. Dit is glo te veel. Die eenheid bedien egter die hele Suid-Vrystaatstreek en kan tot 1000 kilometer per dag aflê.
Majoor-generaal Gela is vroeër vanjaar na die Vrystaat verplaas as seksiebevelvoerder. Dit het media-opskrifte gehaal toe sy oorplasing as die adjunk-kommissaris van Gauteng na 'n seksiebevelvoerder in die Vrystaat as 'n posverlaging gesien is. Hy het glo probeer om die oorplasing teen te staan. Gela het onder Gauteng se provinsiale polisiekommissaris, Mzwandile Petros, gedien.
Sy termyn daar was volgens mediaberigte nie sonder kontroversie nie, veral toe dit bekend word dat van junior beamptes gekla het dat hy hulle verkleineer en beledig het en dat hy hulle sonder enige rede of om die prosedure te volg, verplaas het. 'n Taakspan is aangestel om die saak te ondersoek, maar ná sowat 22 maande is daar nie teen hom opgetree nie.
Bloemfontein Courant het vrae aan die provinsiale kommunikasie-afdeling van die polisie gestuur. Teen druktyd is geen antwoorde ontvang nie. – Cathy Dlodlo
[email protected]
Date:







