“Maak onderwys die beroep van die toekoms” – Fedsas

0
215

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) bring vanjaar hulde aan jong onderwysers wat in moeilike omstandighede steeds in die klas is en leerders se belange eerste stel.

Luidens ‘n persverklaring van Fedsas, is onderwys nie maklik nie en buiten vir uitdagings met hulpbronne en ander omgewingsfaktore, rus ’n groot verantwoordelikheid ook op onderwysers met ouers wat hul kinders daagliks aan opvoeders toevertrou.

Fedsas versoek almal om hierdie jaar hulde te bring aan die onderwysers, oud of jonk, wat ’n rol in hul lewe gespeel het. Op sosiale media kan die hutsmerke #ThankyouTeacher en #DankieOnnie gebruik word.

Dit uitvoerende hoof van die Fedsas, Paul Colditz, sê dit is belangrik om te kyk na aspekte wat ’n invloed het op jongmense se besluit om onderwys as ’n beroep te kies. “As rolspelers moet ons seker maak die beste jong Suid-Afrikaners kies om hulself as onderwysers te bekwaam.

Die toekoms van onderwys en die toekoms van die land is daarvan afhanklik,” sê hy.  Fedsas se nasionale kantoor vier Wêreldonderwyserdag vanjaar by Tswellang Spesiale Skool in Bloemfontein. Die gasspreker vir die dag sal Fedsas se adjunk-provinsiale bestuurder in die Vrystaat, Kgobi Dikana, wees.

Kontak Kathy Verwey by cc@fedsas.org.za vir meer inligting.

info@bloemfonteincourant.co.za