Louzanne wen brons in Japan

0
269
Louzanne Coetzee en haar gids Estean Badenhorst tydens die Wêreld Para-atletiekkampioenskap in Kobe, Japan. FOTO: ANDRIES KRUGER

Die Paralimpiese langasem van Bloemfontein, Louzanne Coetzee, het die brons medalje in die T11 1500m by die Wêreld Para-atletiekkampioenskap in Kobe, Japan, gewen die naweek.

Coetzee het Vrydag vir die eindrondte van die T11 1500m gekwalifiseer deur die derde vinnigste tyd in die uitdunne met 4:53.01 te hardloop. Die eerste twee hardlopers en gidse in die twee uitdunne het outomaties deurgedring na die eindrondte. Terwyl haar derde plek se tyd in die eerste uitdun baie vinniger was as die wentyd in die tweede uitdun, het sy deurgedring as die vinnigste kwalifiseerder.

In Saterdag se eindrondte het Yayesh Gate Tesgaw van Ethiopië en haar gids Kindu Sisay Girma die goud in ‘n wêreldrekordtyd van 4:31.77 gewen. Shanshan He van China en haar gids You Junjie het die silwer medalje in 4:34.12 gewen.

Coetzee, wat die silwer medalje tydens die 2020 Paralimpiese Spele in Tokio gewen het, en haar gids (en swaer), Estean Badenhorst, het ‘n seisoen se beste tyd van 4:50.78 gehardloop om die brons te beklink.

Coetzee het vir Bloemfontein Courant gesê dat sy meer as tevrede was met haar brons medalje en die hele doel was om die Wêreldkampioenskap te gebruik om te slyp vir die Paralimpiese Spele.

“Dit was ‘n baie sterk finaal gewees en ek dink dat al die atlete in goeie vorm was,” sê Coetzee, wat Maandag weer in Suid-Afrika geland het.

“Ons plan was altyd om die wêreldkampioenskap te gebruik om voor te berei vir die Paralimpiese Spele. Ek is op dié stadium baie bly oor my beste tyd van die seisoen, en ons sal nou met ons finale voorbereiding begin vir Parys, so ek kan nie wag om daarmee te begin nie.

“Ek dink die atmosfeer was puik en soos gewoonlik was Japan wonderlik. Die mense was baie vriendelik en gasvry. Al die liefde en ondersteuning vanuit Suid-Afrika was ook wonderlik en ons is net baie dankbaar daarvoor.”

Coetzee se volgende groot uitdaging is om haar silwer uit Tokio op te volg met nog ‘n silwer of beter by die 2024 Paralimpiese Spele wat in Augustus in Parys plaasvind. – MORGAN PIEK