Kunstenaars is bekommerd nou dat Aardklop nie meer is nie

0
4052

 

Dane Beisheim

Baie kunstenaars in die land is bekommerd nou dat die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees, wat jaarliks sedert 1998 in Potchefstroom, Noordwes aangebied was, nie meer in sy huidige formaat gaan geskied nie.

Dit is volgens die akteur Paul du Toit van Binnelanders faam, wat ook verlede jaar in die verhoogproduksie Hemelruim tydens Aardklop te sien was.

“Dit was ’n platform waar ons interessante werk kon doen, en ook mee brood op die tafel kon sit” voeg Du toit verder by. Sy opmerking volg na die Aardklop Stigting se raad van direkteure onlangs besluit het dat die die huidige besigheidsmodel nie meer gepas is om die doelwitte van die maatskappy te bevorder nie.

Feesvoorsitter Louise Barretto het in ’n verklaring gesê dat die Aardklop Stigting nou op nuwe, innoverende modelle sal fokus om te verseker dat die uitvoerende kunste suksesvol bevorder en ondersteun sal word. Die verklaring het verder gesê dat hierdie veranderinge eersdaags bekend gemaak sal word. Intussen sê die sangeres Amanda Strydom, wat by die eerste Aardklop opgetree het en sederdien jaarliks die fees ondersteun, dat die nuus van Aardklop se aflegging as ’n groot skok vir die kunstenaarsgemeenskap kom. Sy voeg ook by dat die vaagheid van die bogenoemde “nuwe modelle” kommer skep by kunstenaars. “Nie net is ek nou my Oktober inkomste kwyt nie, maar so ook al die hotel- en gastehuis eienaars en allerlui ander besighede in Potchefstroom.

Dit is altyd hartseer wanneer die kunste seerkry.” Veteraan akteur André Stolz verwelkom egter die Aardklop Stigting se besluit, en sê dat die “hele kunstefees model onder die loep geplaas moet word”.  Stolz voeg by dat persone wat kunstefeeste bywoon ’n kuluur-inspuiting kry.

“Daarna bly hulle die res van die jaar tuis en kyk televisie of dvd’s. ’n Mens moet eerder die kultuur-aktiwiteite deur die jaar versprei sodat dit ’n meer volhoubare situasie is vir teater praktisyns.”

aardklop