Kom bid vir Pierre Korkie

0
596

Christal-Lize Muller

Die publiek kan daagliks vir ‘n uur vir die oud-Bloemfonteinse onderwyser, Pierre Korkie se vrylating by House of Bread in die stad bid.

Die koffiewinkel met ‘n 24-uur gebedskamer se André Venter sê die kamer is soggens van 09:00 tot 10:00 beskikbaar om uitsluitlik vir Korkie te bid. Hy word al langer as ‘n jaar in Jemen deur ‘n groep verwant aan Al-Kaïda gyselaar gehou.

Venter sê dit is belangrik dat mense Korkie en sy gesin in hul gebede opdra en steeds bly glo en vertrou dat hy veilig na Suid-Afrika sal terugkeer. Volgens hom is House of Bread interkerklik en behoort aan geen denominasie nie.

Korkie se vrou Yolandé is vroeër vanjaar deur Al-Kaïda vrygelaat sonder dat ‘n losprys vir haar vrylating geëis is. Sy het kort daarna by die egpaar se twee tienerkinders in Bloemfontein aangesluit.

Die Korkies is verlede jaar op 27 Mei in die stad Taiz ontvoer.