E Copy

Date:

Kolskoot

Goeiedag

“Oor 93 dae begin die Olimpiese Spele in Brasilië. Dit is tyd dat onse minister van sport, Fikile Mbalula, en sy adjunk, Gert Oosthuizen, hul huis in orde kry. Die Olimpiese leuse: Citius, Altius, Fortius, beteken vir ons sportlui nie Luukse, Groter en Duurder vliegtuie, verblyf en onthale nie, maar Vinniger, Hoër en Sterker.

“Om dit te vermag en ook die noodsaaklike transformasie in sport in ons land te laat plaasvind, is dit die regering, Mbalula en Oosthuizen, se plig om die nodige grondslag te lê. Dit beteken geriewe by alle skole, klubs en in woongebiede, sodat die agtergeblewenes reeds op grondvlak deeglik ontwikkel word. Dit sluit ook opgeleide onderwysers en afrigters in wat na-ure afrigting op voetsoolvlak doen, asook die onderhoud van die geriewe. Ek dink Mbalula-hulle span die perd voor die kar deur krieket, rugby, atletiek en netbal te straf omdat transformasie nie vinnig genoeg plaasvind nie.

“Om alles te kroon, word die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging en die ploeterende Bafana as voorbeeld voorgehou. Wat is die ontwikkeling, transformasie en prestasies wat sokker gelewer het? Bafana het laas in 1996 iets noemenswaardigs vermag en beklee die 70ste plek op die wêreldranglys. Dalk moet Mbalula-hulle weer dink oor sake soos voortreflikheid, deurstettingsvermoë en meriete in sport.

“Natuurlik is 2016 ‘n verkiesingsjaar en politici se politieke onderrokke hang uit, maar as ons atlete en sportlui op die wêreldverhoog presteer, is Mbalula en Oosthuizen op die voorpunt om in die glans te deel,” begin Stywelip Carrington ons indaba op ‘n driftige wyse.

“Jy’s reg, Stywelip. Sonder die nodige geriewe, klaskamers, skole, bekwame onderwysers en afrigters kan transformasie nie teen hul verlangde pas plaasvind nie. Om nie eens te praat van die sport-soustrein nie. Ek sien Saskok, wat nie eers op die oomblik behoorlik na ons sportlui omsien nie, betaal nou vir politici om die Spele in Rio de Janeiro by te woon. Dis die sake wat Mbalula-hulle moet aanspreek, want dan sal transformasie natuurlik plaasvind,” praat Sporie Bezuidenhout saam.

“Kalm, manne. Vergeet eers die politiek. Vir my was Superrugby die groot skok. Ons rugbymense is hard teruggebring aarde toe. Vyf van ons ses spanne, en dit sluit die pasaangeërs, Leeus en Stormers, in, het slae gekry. Ons nuwe Bok-breier, Allister Coetzee, sal weer moet dink, want die Nieu-Seelandse, Australiese en Argentynse spanne het ons fisiek aangevat en oordonder. Die Haaie 24-22, Cheetahs 30-17, Leeus 50-17, Stormers 32-30 en Kings 73-27 het onderskeidelik teen die Chiefs, Reds, Hurricanes, Waratahs en Jaguares slae gekry. Ek begin daaraan dink om naweke rolbal te speel,” verander Oom Sjert die onderwerp.

“Geluk, Botterbul. Die Bulle het SA se rugbynaam hoog gehou deur die Force in Perth 42-20 af te ransel. Dit is nie die einde nie, want die Bulle en Cheetahs moet nou die Brumbies en Waratahs oorsee pak, terwyl die Leeus en Kings die Hurricanes en Blues tuis aandurf,” laat Bontie Bonthuys van hom hoor.

Botterbul wil spog en die ander wil nog ‘n eiertjie lê, maar die tyd is verstreke.

Groetnis

Share post:

Popular

More like this
Related

R6 million allocated for Bloemfontein Zoo revamp

Mangaung Metro targets full reopening by 2028, plans major...

Universitas Hospital unveils first of its kind surgical robotics system

Universitas Academic Hospital has made history with the official...

Free State Mortuary backlog: 42 autopsies still pending amid urgent efforts

The Free State Department of Health has confirmed that...

Bloem schools bold about bullying

Bullying is more than just verbal or physical abuse...