E Copy

Date:

Oranje en Eunice oorheers hokkiefees in Durban

Die Hoër Meisieskool Oranje en Eunice in Bloemfontein het die naweek in Durban weer eens gewys dat hulle ongetwyfeld onderskeidelik dié beste en een van die beste eerste hokkiespanne vir meisies in Suid-Afrika is.

Oranje en Eunice was in aksie by die jaarlikse All Girls’ Schools Festival en het in die uitspeelrondes elk vyf wedstryde gespeel. Hulle het hulle só goed van hul taak gekwyt dat hulle in die eindstryd teen mekaar te staan gekom het.

Oranje het in die uitspeelwedstryde vir Afrikaans Hoër Meisieskool (Pretoria) met 2 – 0 getroef en toe afgereken met Durban Girls’ High met ‘n reuse 5 – 0. In Oranje se wedstryd teen Rhenish Girls’ High het hulle ook die septer geswaai (2 – 0).

Oranje het hul ‘buurvrou’, St Michael’s School for Girls (SMS), met 9 – 0 afgeransel. Maar, hulle het byna hul rieme styfgeloop teen Rustenburg High School for Girls. Dié wedstryd het gelykop geëindig nadat nie een van die spanne die agterkant van die net kon tref nie.
Eunice se opmars na die eindwedstryd was eweneens indrukwekkend. Hulle het eers vir Danville Park Girls’ High afgeslag met 4 – 0 en het hulle moeilikste wedstryd teen Wynberg beleef toe die eindfluitjie geblaas het met die telling op een elk.

Eunice het die Noordwes-meisieskole se hokkiekrag, Potch Girls’ High, met 2 – 0 geklop en was ook aan die wenkant teen Queenstown Girls’ High (3 – 0). Die Bloemfonteiners het die span wat algeheel derde geëindig het, Collegiate Girls’ High, met 2 – 0 verslaan.

Met slegs twee gelykopuitslae en vier oorwinnings elk vir Oranje en Eunice, het dié twee Bloemfonteinse skole die eindstryd bereik en daar was min te kies tussen hulle.

Na skitterende spel deur albei Oranje en Eunice, het Oranje uiteindelik die oorhand gekry om as toernooikampioen gekroon te word met slegs een doel verskil. Oranje het gewen met 2 – 1.

SMS het uiteindelik 16de uit die 21 skole wat meegeding het, geëindig.

Dit is interessant om daarop te let dat drie Bloemfonteinse hoërskole onder die top-10 gelys word volgens www.saschoolsports.co.za se jongste ranglys van beste eerstespanne. Oranje is nommer een onder die meisies, terwyl Eunice die agtste plek beklee. Oranje het reeds 19 wedstryde agter die rug en Eunice slegs 16. Die Hoërskool Grey-kollege is die enigste Vrystaatse skool wat hom onder die top-10 onder die manne bevind en is sesde geplaas. Rondebosch is die voorlopers onder die seuns. – RUFUS BOTHA

Share post:

Popular

More like this
Related

Busamed gives children hope through free scoliosis surgery

Busamed Bram Fischer Private Hospital in Bloemfontein is performing...

Preserving Bloemfontein’s heritage assets

Bloemfontein is home to some of South Africa’s most...

MMM addresses Treasury concerns

The Free State has once again come under the...

Transport oversight visit focuses on safer roads

Deputy minister of transport Mkhuleko Hlengwa visited the Free...