Kolskoot

0
Kolskoot

Goeiedag

Die Afrika-atletiekkampioenskap wat in Durban plaasgevind het, het Stywelip Carrington kortasem van opgewondenheid. Hy was daar toe Suid-Afrikaanse atlete 38 medaljes, waarvan 16 goud, ingeryg het. “Manne, Caster Semenya (1 500, 800 en 4×400) en Wayde van Niekerk (200, 4×100) met hul medaljes was die groot sterre. Albei kan goues op die Olimpiese Spele in Rio verower en dan het nog ander soos Antonio Alkana (110 h), Wenda Nel (400 h), Sunette Viljoen (SG), Rushmal Samaai (VS), Philmar van Rensburg (SG), Claudia Heunis (100 h), Victor Hogan (DG), Jaco Engelbrecht (GS), Friedrich Pretorius (tienkamp), Stephen Makoka (10 000) goud verower. Daarby glo ek ons Blitsbokke kan in rugby ook ‘n medalje verower,” begin hy ons indaba.

Die manne vat die aas.

“Onthou, ons atlete was teen die res van Afrika in aksie. Kom ons vergelyk hul vertonings ná hierdie naweek se Europese kampioenskap. Ek stem saam Semenya en Van Niekerk kan op die Spele uitblink. Vir my was die Springbokke se naelskraapse sege van 19-13 oor Ierland belangriker, want ons het darem daarmee die reeks 2-1 gewen,” praat Sporie Bezuidenhout saam.

“Die rooi ligte flikker. Die Bokke het te veel teen die Iere geploeter. Ons Proteas kon nie eens die eindstryd van die driehoekige krieketreeks teen die Windies en Aussies haal nie, terwyl ons Bokkies (o.20-span) slegs vierde op die Junior Wêreld-rugbytoernooi in Manchester geëindig het. Die wyse waarop ons Bokkies voor die fisieke aanslag van die Engelse (17-39) en jong Poemas (19-49) geswig het, wys daar is groot fout. Teen die Iere was die Bokke se agterspel verbeeldingloos en ons vaardighede skiet tekort. Allister Coetzee sal weer moet dink oor sy heelagter, Willie le Roux, en ook die senterpaar, Damian de Allende en Lionel Mapoe. Ek sidder as ek dink aan die Kampioenskap-rugbyreeks teen die All Blacks, Wallabies en Poemas later vanjaar,” laat Botterbul Bester van hom hoor.

“Ja, en daarna moet ons teen Engeland op Twickenham kragte meet nadat hulle die Wallabies 3-0 in Australië geklop het en die Barbarians, Italië en Wallis wag ook.

“In die Vrystaat is daar ook ‘n skroef los. Die Vrystaat XV-tal het wraggies in die Curriebeker-kwalifiserende reeks 33-49 teen die Griffons verloor. Ons het rede tot kommer, maar dalk kom ons SA spanne in rat wanneer die Superrugby-reeks hierdie naweek hervat word. Die Cheetahs durf die Western Force hier in Bloemfontein aan, terwyl die Stormers die Rebels in Melbourne en die Kings die Highlanders in die Baai pak. Die grote is die Leeus teen die Haaie. Spelers van die Leeus was die groot uitblinkers vir die Bokke en hulle kan hul segetog vanjaar op hul tuisveld voortsit,” laat Oom Sjert van hom hoor.

“Ek begin met ‘n paar oud-Bokke saamstem. Privatisering van rugby is die oplossing, want Saru gee nie leiding nie en bring nie vernuwing nie. Met privatisering kan maatstawwe soos voortreflikheid, meriete en niks anders geld nie. Ons spelers sal beter ontwikkel en in die land gehou word,” gooi Bontie Bonthuys ‘n klip in die bos.

Dit is vet op die vuur en almal praat gelyk!

Groetnis

No posts to display