Wayde wen Afrika-200m-titel in kookwatertyd

0
Wayde wen Afrika-200m-titel in kookwatertyd
Wayde van Niekerk - ADIDAS

Gemeet aan die afgelope week se Afrika-atletiekkampioenskap in Durban, verloop Bloemfontein se wêreldkampioen in die 400m, Wayde van Niekerk, se beplanning seepglad. Dít in sy opmars na ‘n Olimpiese Spele-titel in die einste nommer in Augustus in Rio de Janeiro.

Dit verloop só glad dat die wêreldbekende “atletiekbybel”, Track & Field News, reeds ‘n vroeë voorspelling gewaag het dat Van Niekerk goud in Rio gaan verower.

Hy het in Durban nié in sy voorkeurnommer (400m) meegeding nie, maar wel die res van Afrika in die 200m stukkend genael. En hy het nie gespeel nie, selfs nie in die uitdunne en halfeindronde nie. Van Niekerk het by verre die vinnigste uitduntyd (20,34) afgeblits en in die halfeindronde was daar weer eens geen keer aan dié Bloem-blits nie.

Hy het sy halfeindronde in ‘n wêreldklastyd van 20,03 gewen. In die eindronde was Van Niekerk die res van Afrika se bestes spreekwoordelik myle voor. Hy het die titel in 20,02 gewen en die onderskeie silwer- en bronsmedaljewenners, Adama Jammeh (Gambia, 20,45) en Matadi Emmanuel (Liberië, 20,55), na hul asem laat snak.

Van Niekerk het ná die wedloop in ‘n televisieonderhoud gesê hy het swak weggespring en was effens styf gedurende die wedloop. Sy tyd (20,02) is tans die sesde beste op die wêreldranglys van beste vertonings in die 200m vanjaar. Van Niekerk se vernaamste teenstander vir die 400m in Rio in hierdie stadium, LaShawn Merrit (VSA, 19,78), loop voor op genoemde ranglys.

Van Niekerk het sy klas onderstreep toe hy in die 4x100m-aflos vir Suid-Afrika die tweede skof afgeblits het en sodoende die Reënboognasie gehelp het om goud in te oes in 38,84. Die Ivoorkus was tweede (38,89) en Zambië derde (39,77).

Nog ‘n atleet van Bloemfontein wat, soos Van Niekerk, deur die befaamde Ans Botha afgerig word, Maryke Brits (Kovsies), het ‘n puik byeenkoms beleef. Sy het die bronsmedalje in die 100m-hekkies in 13,47 opgeraap. Die wedloop is gewen deur Suid-Afrika se Claudia Heunis (13,35) en sy is gevolg deur Yasmine Koala (Burkino Fasa, 13,36).

Chris Harmse (Sasolburg) het vir Suid-Afrika ‘n tweede plek behaal in die hamergooi. Dié 20-malige Suid-Afrikaanse senior kampioen het 67,67 meter gegooi teenoor die wenafstand van die Egiptenaar, Eslam Ibrahim se 68,92. Rynhardt van Rensburg (Kovsies, 1:46,15) het hom goed van sy taak gekwyt deur ‘n derde plek in die 800m te behaal.

Die wêreld-juniorrekordhouer (1:41.73) en buurman van Botswana, Nijel Amos, het in 1:45,11 gewen en Jacob Rozani (RSA, tweede, 1:45,38) was voor Van Rensburg. Die voormalige bronsmedaljewenner in die 1500m op die wêreldatletiekkampioenskap, Johan Cronjé (Kovsies), het ook koppe gestamp op die Afrika-kampioenskap, maar hy is vir seker nie tevrede met sy negende plek (3:45,26) in die eindronde nie.

Hy het vir Courant gesê: “Toe die manne begin versnel eindstreep toe, het ek eenvoudig niks in my bene oorgehad nie.” Cronjé was in die uitdun in ‘n stampery betrokke en het die randsteen getref, maar het sodanig herstel dat hy die eindronde gehaal het.

By navraag of dit ‘n invloed in die eindronde gehad het, het die beskeie Cronjé vir Courant gesê: “Ek was seer die volgende dag, maar dit was nie die rede vir my swak wedloop in die eindronde nie.” Cronjé het bygevoeg dat hy op 3 en 9 Julie in Europa aan twee 1500 meter-wedlope gaan deelneem en beoog om die kwalifiserende vereiste vir Spele in Rio (3:36,20) te behaal. – RUFUS BOTHA

No posts to display