OWEN KOCK
Die direkteur van die Universiteit van die Vrystaat se Sentrum vir Ramprisikobestuur, dr. Andries Jordaan, was verlede maand die enigste verteenwoordiger van Afrika op die Verenigde Nasies se spesialiskomitee by die deskundige werksessie oor klimaatsweerbaarheid in Genève, Switserland.
Hy is deur VN-sekretaris Ban Ki Moon as deelnemer genooi. In ‘n eksklusiewe onderhoud met Courant in sy kantoor by die universiteit, ‘n dag na sy terugkeer uit Switserland, het Jordaan gesê hul sentrum by die universiteit het ‘n sterk voetspoor in Afrika met studente wat van 17 Afrika-lande afkomstig is.
Jordaan het die afgelope tien jaar reeds baie werk in Afrika gedoen en is verheug dat hy deur die VN genooi is om insette te lewer.
"Ek is persoonlik baie wyser en baie bemoedig deur die feit dat ons op die regte pad is met dit wat ons ons studente leer. Ons het reeds vir baie jare in ons curriculum ingebou dat ons weerbaarheid bo kwesbaarheid plaas. Baie lande het vir baie jare in hul ontwikkelingsprogramme gefokus op weerbaarheid, armoede en die probleme wat ervaar word.
"Ons het deur navorsing besef dit is beter om op die positiewe te fokus, om op weerbaarheid te fokus, want selfs in arm gemeenskappe is daar mos redes hoekom mense probleme kan oorkom," het Jordaan bygevoeg.
Hy voel goed dat die Verenigde Nasies op internasionale vlak bevestig waarmee hulle by die universiteit besig is, want dit was per slot van sake waaroor die werksessie gegaan het – dit waarmee hulle by die Universiteit van die Vrystaat besig is.
"Ons het ‘n nagraadse program in rampbestuur, ‘n meestersprogram en ook ‘n PhD-program wat redelik jonk is. Ons sit reeds met nege PhD’s en nog 13 wat aansoek gedoen het uit verskeie Afrika-lande, so ons het ‘n baie sterk program. In die verlede was ons hoofsaaklik gefokus op leer en opleiding, maar ek dink ons fokus het heelwat verskuif na navorsing," het Jordaan gesê.
Jordaan se deelname aan die werksessie was ter voorbereiding van COP 21 wat later vanjaar in Parys plaasvind. Hy sal dit in alle waarskynlikheid bywoon.







