E Copy

Date:

Jong kunstenaars aangemoedig om lewe te maak uit hul passie

Die veelsydige Bloemfonteinse kunstenaar DuPreez Strauss se passie vir die kunste strek wyer as net sy eie werk. Strauss is bekend as regisseur en vervaardiger van televisieprogramme en musiek, maar is ook ’n visuele kunstenaar en musikant.

Strauss sê aan Bloemfontein Courant hy het ’n passie vir die volgende geslag kunstenaars ontwikkel, en om te verseker jong Suid-Afrikaners weet wat dit verg om ’n suksesvolle loopbaan in die kunste te hê.

“As ’n kunstenaar wat in Suid-Afrika grootgeword het, het ek op ’n vroeë ouderdom besef hoe moeilik dit is om ’n bestaan te maak deur die kunste,” sê hy. “Dit is ongelukkig waarom ek vir die grootste deel van my loopbaan buite Suid-Afrika moes werk.”

In die jare wat hy in die buiteland deurgebring het, het hy egter afgesonderd gevoel in die wete dat daar baie jong kunstenaars in Suid-Afrika is wat sukkel om hul kuns suksesvol in ’n besigheid te verander.

“Ek het volhard in my pogings. Ek is 47 jaar oud en oor die jare het ek kollegas gehad wat ook kunstenaars wou wees, maar tou opgegooi het.”

Kunstenaars sukkel geweldig om hul kuns in ’n besigheid te omskep, omdat nie almal die besigheidsvaardighede geleer word nie.

DuPreez Strauss by een van sy werke wat deel is van sy ‘Sien in die donker’-uitstalling by Du Monye Galery.
FOTO: WARREN HAWKINS

Die kunstenaar is nou terug in Bloemfontein, en hou sy oog op die plaaslike kunsbedryf om te sien wat die stad se kunstenaars het om te bied.

“Ek hou dop om te sien watter kunstenaars hier ervaar wat ek as ’n jong kunstenaar ervaar het,” sê hy. “Ek soek die een wat sukkel om die verband te tref tussen uitdrukking en om ’n bestaan daaruit te maak.

“Ek is altyd oop vir enige jong kunstenaar om na my uit te reik as hulle voel ek kan as mentor iets vir hulle bied,” voeg Strauss by. “Die grootste beloning vir my is om nou jong kunstenaars te ontgin wat ek kan mentor om ’n bestaan in die kunste te maak.”

Strauss se raad aan jong kunstenaars is om nooit tou op te gooi nie.

“Volhard, en moenie toelaat dat enigiemand vir jou sê dat jy nie kreatief kan wees net omdat jy huur moet betaal nie,” sê hy. “Jy kan dit maak werk, moet net nie lui wees nie en sit die moeite in.”

Strauss meen as hy dit kon regkry, kan enige jong kunstenaar daarin slaag.

 

Warren Hawkins
[email protected]

Share post:

Popular

More like this
Related

UFS pianist debuts in Madrid

The University of the Free State (UFS) has celebrated...

NFVF invites applications for public screening funding

The National Film and Video Foundation (NFVF) has opened...

CUT responds to sexual harassment allegations

The Central University of Technology (CUT) has responded to...

ADVERTORIAL: Meet our team of specialists

Life Rosepark Hospital is proud to introduce a dynamic...