‘n Inwoner van Roodewal in die ooste van Bloemfontein sit met sy hande in sy hare nadat hy 15 rondloperkatte geërf het toe hy sy intrek op sy kleinhoewe geneem het.
Riaan Els sê toe hy na die gebied verhuis het, het hy ontdek dat van die vorige inwoners katte daar agtergelaat het. Hy het self vyf katte en sit dus nou met 20 katte op sy kleinhoewe. Alhoewel hy aanvanklik mismoedig was oor die situasie, het hy besluit om die 15 katte in sy sorg te neem omdat hul toestand versleg het.
“Ek kon nie toesien dat ‘n kat, of enige ander dier, honger moet ly nie, daarom het ek hulle op ‘n daaglikse basis kos begin gee. Die probleem is egter dat die katte by die dag meer word.”
Els sê daar was aanvanklik ‘n instansie wat die katte gesteriliseer het, maar hulle doen dit nie meer nie. “Ek het uiteindelik die DBV gekontak om die katte te kom verwyder omdat mense in die omgewing die katte begin vergiftig het. Die DBV het egter gesê dit kos R50 ‘n kat as hulle die katte moet verwyder.”
Els sê sy liefde vir diere maak dit vir hom maklik om vir die katte te sorg, maar finansieel raak dit moeilik om aanhoudend katkos te koop. Lesers wat Els wil help, kan hom by 072 278 5632 bel.
Blaine Jones