Internasionale tennis is terug na drie dekades

0
347
Liné Greyling FOTO: ORANJE

Opwinding heers onder tennis-geesdriftige in Bloemfontein met die nuus dat, ná nagenoeg 30 jaar, internasionale tennis ‘n welkome terugkeer na die Vrystaat sal maak.

Dit sal wel op junior-vlak wees, met die Universiteit van die Vrystaat (UV) as die hoofborg van die UV Cepha Tennis Junior ITF-reeks wat in Februarie by Vrystaatstadion tennisbane sal plaasvind.

Die eerste van die toernooie sal op 5 Februarie in Bloemfontein begin, met die finale wedstryde wat ses dae later op 11 Februarie gespeel sal word. Die tweede toernooi sal tussen 12 en 18 Februarie beslis word.

Talle van Suid-Afrika se top- junior spelers het reeds ingeskryf en tot dusver het spelers van onder meer België, Botswana, Duitsland, Egipte, Brittanje, Hongarye, Israel, Lesotho, Luxemburg, Madagaskar, Namibië, Roemenië, Switserland, VSA en Zimbabwe hul deelname bevestig.

Die gesoute tennisafrigter in Bloemfontein, MC Olivier, wat hard aan die werk is om die toernooi te reël het aan Bloemfontein Courant gesê dat ná ongeveer twee jaar van Covid-19, die spelers ‘n toptoernooi verdien.

“Cepha Tennis is baie opgewonde oor die vennootskap met die Univesiteit van die Vrystaat om dié internasionale toernooi na Bloemfontein te bring. Ons doelwit vir die jaar is net om te verseker dat ons ‘n behoorlike vertoning lewer.

“Ek dink die spelers verdien dit want dit was lank wat ons nie tennis kon speel nie. Dit is lekker om tennis terug te hê, veral ‘n internasionale toernooi. Dit is ten minste 30 jaar gelede wat ons ‘n internasionale toernooi in Bloemfontein gehad het.

“Ons is hard aan die reël om te verseker dat dit ordentlik sal wees.”

Met betrekking tot plaaslike spelers om dop te hou is Olivier van mening dat Liné Greyling en Gerhard Henning beslis hul stempel op die toernooi kan afdruk.

“As ons praat van plaaslike spelers wat na verwagting hul stemme dik sal maak, dan praat ons van Liné Greyling. Sy is in matriek in Oranje. Die ander een is Gerhard Henning. Ek dink dit is die spelers wat direk aanvaar sal word in die hoofloting. Dít is die twee Vrystaters wat ek dink ons kan dophou.”

Woensdag het Greyling en Henning albei in die kwarteindrondes van die ITF-toernooi in Durban meegeding. Teen druktyd was die uitslae van dié twee kragmetings nog nie bekend nie. – MORGAN PIEK