E Copy

Date:

Internasionale gholf maak ‘n draai in Bfn

Die Bloemfontein-gholfklub, asook die Schoemanpark-gholfklub, staal hulself vir internasionale aksie met die eerste Mangaung Ope-gholftoernooi wat in Maart sal afslaan.

Die toernooi word in samewerking met die plaaslike Sonskynreeks en die Europese Uitdaagreeks aangebied om van Suid-Afrika en Europa se beste en opkomende spelers na die Rosestad te lok.

Die toernooi, wat soos oudergewoonte op die hoogste vlak oor vier dae gespeel sal word, sal op albei die gholfbane plaasvind. Danksy die onlangse reën in die Vrystaat is die bane in ‘n uisonderlike goeie toestand en sal dit help dat opwindende gholf gespeel sal word.

‘n Totaal van 216 spelers sal na verwagting aan die toernooi deelneem vir prysgeld van net minder as R4 miljoen ($250 000). Tot dusver is die lys van spelers nog nie bevestig nie en sal dit nader aan die toernooidatum voltooi word. Een speler wat wel bevestig het, is die belowende speler van Bloemfontein, Wilco Nienaber.

Nienaber, wat in Aliwal-Noord sowel as Bloemfontein grootgeword het, het verlede jaar sy stem dik gemaak tydens die die Dimension Data Pro-Am by Fancourt in George. Nienaber het dié toernooi in die skadu van die Outeniquaberge gewen vir sy eerste titel as ‘n professionele speler – en dit alles voor sy 21ste verjaarsdag. Dié sege het deure vir die sterspeler oopgemaak, wat ook daartoe gelei het dat hy vir die heel eerste keer aan ‘n major-toernooi deelgeneem het toe hy in die Amerikaanse Ope by Torrey Pines in San Diego gespeel het.

Enige van die spelers, veral wat in die Sonskynreeks speel, kan dieselfde pad stap indien hulle ‘n sege kan inpalm. In dié stadium sal Nienaber die man wees om te klop, en die kennis van sy tuisbaan is vir seker ‘n groot voordeel.

Die nederige Nienaber het egter aan Bloemfontein Courant gesê dat ‘n speler nog steeds sal moet uithaal en wys.

“In ‘n gholftoenooi is al die spelers regtig goed en dit maak glad nie saak op watter toer hulle speel nie. Ons ken die bane baie goed maar dit gebeur dikwels dat ‘n internasionale speler vir die eerste keer op ‘n baan speel en ‘n baanrekord opstel. Sulke dinge gebeur in gholf, maar ek is regtig opgewonde dat ek nie baie tyd hoef te spandeer om aan die baan gewoond te raak nie.”

Nog ‘n speler met plaaslike kennis is MJ Viljoen, wat deesdae in George woon. Viljoen het by die einste Bloemfontein-gholfklub sy Sonskynreeks-toerkaart gewen. Hy verstaan dat die bane nie die maklikste is om te tem nie.

“Die Bloemfontein- en Schoemanpark-gholfklubs moet net wys dat hulle mededingende gholfbane is en ek dink ook dit is vir hulle ‘n wonderlike geleentheid. Dit is moeilik om daar te speel want hulle  bied ‘n strawwe uitdaging.

“’n Mens word gewoond om daar te speel, maar as die bane vir ‘n kompetisie uitgelê word, is dit bane wat ‘n speler swaar kan straf.”

Bo en behalwe dat die toernooi vir die sportgeesdriftiges iets uitsonders sal wees, sal dit ook vir die stad ‘n ekonomiese inspuiting wees, veral vir gastehuise, hotelle en restaurante.

Daar is ook die moontlikheid dat die toernooi Bloemfontein op die wêreldverhoog kan plaas, aangesien die toernooi plaaslik asook internasionaal uitgesaai sal word.

In dié stadium sal 2000 toeskouers toegelaat word om die toernooi by te woon. Die getal kan egter in die volgende maand vergroot word.

Die eerste Mangaung Ope sal vanaf 3 tot 6 Maart gespeel word. – MORGAN PIEK

Share post:

Popular

More like this
Related

UFS pianist debuts in Madrid

The University of the Free State (UFS) has celebrated...

NFVF invites applications for public screening funding

The National Film and Video Foundation (NFVF) has opened...

CUT responds to sexual harassment allegations

The Central University of Technology (CUT) has responded to...

ADVERTORIAL: Meet our team of specialists

Life Rosepark Hospital is proud to introduce a dynamic...