Hansie toegang tot sentrum geweier

0
2082
Hansie Fourie. FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

Die pasafgelope Kersseisoen het op ‘n slegte noot afgeskop vir Hansie Fourie, een van die noordelike voorstede se bekendste gesigte, en sy hond Droopy.

Fourie, wat daagliks by die verkeerslig langs die Engen-vulstasie by die Northridge-winkelsentrum te sien is waar hy op ‘n los werkie wag, sê ‘n sekuriteitswag van Northridge het hom hardhandig uit die sentrum verwyder toe hy inkopies wou gaan doen.
Volgens Fourie wou hy vir sy hond gaan kos koop asook sy eie mediksie, toe hy deur die sekuriteitswag van die inkopiesentrum toegang geweier is.

“My hond, Droopy, was nie eers saam met my nie. Toe ek wou instap het die sekuriteit my gekeer. Hulle het geen rede gehad hoekom ek nie kon ingaan nie,” het Fourie vertel.
Volgens Fourie het die sekuriteitswag hom toe gevolg tot by sy hond, wat by die vulstasie in die koelte vasgemaak was. “Hulle het my hond geskop en my met pepersproei gespuit,” het Fourie ontsteld gesê.

Hansie Fourie en sy hond, Droopy. FOTO: PIERCE VAN HEERDEN

Toe Bloemfontein Courant by die betrokke sekuriteitwag oor die voorval navraag doen, kon hy nie geldige redes verskaf waarom Fourie toegang tot die winkelsentrum geweier is nie. Die wag het aan Courant gesê dat Fourie ‘n bedelaar is en dus nie die winkelsentrum mag betree nie aangesien dit private eiendom is.

Fourie het vertel dat hy nog nooit iemand in die sentrum gepla het nie, nog nooit gesteel het nie en voel hy is ‘n klant soos enige ander mens.

Bloemfontein Courant het met die Engen-vulstasie se bestuur gaan gesels oor Fourie. Hulle het dit duidelik gestel dat Fourie nog nooit moeilikheid gemaak het nie en dat hy daagliks inkom om vir hom in die somer ‘n koeldrank te koop en ‘n koppie koffie in die winter. Die bestuur het Fourie beskryf as een van hul beste klante.

Die mooi in die verhaal, is dat ‘n weldoener aangebied het om Droopy se veeartsrekening te betaal nadat die hond na bewering deur die sekuriteit geskop is.
“Ek kon Droopy dierekliniek toe vat vir x-straalplate en dié persoon het die rekening betaal,” het Fourie vertel.

Bloemfontein Courant het verskeie kere probeer om die sentrumbestuurder van Northridge, te kontak vir kommentaar oor die voorval, maar teen druktyd het die bestuur nie gereageer nie. – Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za