Guardian and Angel bring kersvreugde aan minderbevoorregtes

0
246
Hester Bekker. FOTO: VERSKAF

In die gees van Kersfees en barmhartigheid doen Guardian and Angel ’n beroep op die gemeenskap om saam met hulle ’n verskil te maak in die lewens van minderbevoorregte gesinne en kinders hierdie Kersseisoen.

Volgens Guardian and Angel se Hester Bekker is hul primêre doel om ’n hand uit te reik na dié wat dit die meeste nodig het. Hulle fokus op die voorsiening van kos oor die Kersfeestyd, terwyl hulle ook ’n spesiale dag van vreugde en bederf vir minderbevoorregte gesinne en kinders organiseer.

Bekker sê om hierdie lofwaardige doelwitte te bereik, het die organisasie ’n reeks inisiatiewe beplan, insluitend ’n markdag op 4 November wat by Oppi Plotte (11 Tibbie Visser, Estoire) plaasvind. “Ons vra asseblief die gemeenskap om ons te ondersteun deur ons mark te besoek asook om nie bederfbare voedsel te skenk,” sê Bekker. Sy voeg by dat al hierdie bydraes gebruik sal word om kospakkies te pak vir diegene wat dit nodig het.

“Daar is tans ’n groot behoefte aan nie-bederfbare voedsel om in kospakkies te pak. Daar is ook nog kinders en bejaardes wat geskenke kort,” sê sy.

Guardian and Angel het reeds vir die afgelope nege jaar ’n stralende Kersboomviering aangebied. Hierdie jaarlikse geleentheid bring vreugde aan kinders en bejaardes wat nie andersins ’n Kersgeskenk sou ontvang nie.

“Ek wil die publiek vra om ons organisasie te ondersteun met ons Kersprojek. As jy gee, moenie onthou nie, as jy ontvang, moenie vergeet nie. Staan saam met ons en maak ‘n verskil in die wat nie so bevoorreg is nie se lewe.”

Die publiek is welkom om vir Hester Bekker te kontak by 068- 217-6895 of 072-423-6277, of per e-pos by hesterbekker25@ gmail.com om meer inligting te bekom of om ondersteuning te bied.

Justine Fortuin
justine@mahareng.co.za